Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 3 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Fliek oor ʼn skootdanser wat impulsief met ʼn Russiese swierbol trou, Anora, is as beste rolprent bekroon op die 97ste Academy Awards in Los Angeles. Die fliek het altesaam vyf toekennings opgeraap – beste regisseur vir Sean Baker, beste aktrise vir Mikey Madison, oorspronklike draaiboek en redigering. Adrien Brody van The Brutalist is die beste akteur. Kieran Culkin het ‘n Oscar ontvang vir beste ondersteunende akteur in A Real Pain, met Zoe Saldaña beste ondersteunende aktrise vir haar rol in Emilia Pérez. Die beste aangepaste draaiboek is Conclave.
# Captain America: Brave New World, met Harrison Ford, Anthony Mackie en Shira Haas in die hoofrolle, het die derde agtereenvolgende naweek die beste gedoen by die Noord-Amerikaanse loket. Die nuwe vrystelling Last Breath, ʼn film oor diepseeduikers wat jaag om ʼn spanmaat te red, het sy debuut op nommer twee gemaak terwyl Neon Studio se komedie-riller, The Monkey, derde is. Paddington in Peru en Dog Man voltooi die topvyf. Mufasa: The Lion King is steeds onder die toptien in sesde plek.
# Die Mangosuthu Universiteit vir Tegnologie in KwaZulu-Natal sê hy tree pro-aktief op om bewustheid te verhoog oor die menslike papilloomvirus en die verband met servikale kanker. Meer as vyf-duisend vroue sterf jaarliks in Suid-Afrika aan dié kanker. Die universiteit se Departement van Biomediese Wetenskappe begin môre met ‘n veldtog oor die virus wanneer die internasionale MPV-bewustheidsdag herdenk word. ‘n Senior dosent, Rajendrie Govender, sê die goeie nuus is dat servikale kanker grootliks verhoed kan word deur inenting, gereelde Papsmeer-toetse en leefstylkeuses wat blootstelling aan die virus beperk.
# Die Departement van Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede sê dit is belangrik om bewustheid te verhoog oor doofheid en gehoorverlies en om toegang tot oor- en gehoorsorg te bevorder. Dis vandag Wêreldgehoordag, wat herdenk word onder die tema, Verander ingesteldhede: Bemagtig jouself. Maak oor- en gehoorsorg ‘n werklikheid vir almal. Die woordvoerder van die departement, Cassius Selala, sê daar is ongeveer vier-miljoen mense met ‘n gehoorgestremdheid in Suid-Afrika:
# En ten slotte: Suid-Afrika se eerste ietermagog-reddingsentrum is in die Lapalala-wildernisreservaat in Limpopo geopen. Die Pangolarium, wat deur die Afrika Ietermagog-werksgroep bekendgestel is, bied aan ietermagogs wat van onwettige handelaars gered word, kans om te genees en weer in die natuur vrygelaat te word. Hulle word ook deur veeartse versorg en gerehabiliteer. Die Pangolarium bevorder bewaring en veiligheid vir hierdie bedreigde diere wat die soogdiere is waarmee wêreldwyd die meeste onwettig handel gedryf word.