Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 3 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, Unesco, het sy Wêreldpersvryheidsprys aan alle Palestynse joernaliste toegeken wat die oorlog in Gaza dek. Volgens die komitee vir die beskerming van joernaliste in New York is minstens 97 van sy lede dood sedert die begin van die oorlog, van wie 92 Palestyne was. Unesco se direkteur-generaal, Audrey Azoulay, het die joernaliste geloof vir hul waagmoed in moeilike en gevaarlike omstandighede.
Die organisasie Gesondheidsorgwerkers vir Palestina in Suid-Afrika het intussen saam met Gift of the Givers 400 pare skoene aan die Laerskool Durban Deep en die Sekondêre Skool Thulani in Gauteng geskenk. Die Soles of our Souls-veldtog wil die nagedagtenis gedenk van onskuldige kinders wat in Gaza dood is deur noodsaaklike skoolskoene aan minderbevoorregte Suid-Afrikaanse leerders te skenk. Die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, Lubabalo Magwentshu, sê hulle probeer met beperkte hulpbronne voortdurend vennootskappe vorm met organisasies wat in leerders se behoeftes kan voorsien.
# Die inskrywings vir Mej Suid-Afrika 2024 sluit Woensdag. Getroude vroue en dié met kinders is steeds welkom om in te skryf. Die publiek sal weer die finaliste leer ken op die werklikheidstelevisieprogram Crown Chasers, wat op SABC3 uitgesaai word. Die huidige Mej SA, Natasha Joubert, sê deelnemers moet hulself goed ken, aangesien die kompetisie oor meer gaan as net die klerekas, voorspraak en selferkenning.
# Charissa Button het die eerste PhD-gegradueerde in Astrofisika aan die Universiteit van Pretoria geword. Haar belangstelling in radioastronomie is aangewakker deur die vak se unieke perspektief om talle fundamentele kwessies oor fisika te ondersoek. Dit sluit in die aard en effek van donker materie en die uitgestrektheid van die heelal. Button sê sy het tydens haar radioastronomie-studies ‘n belangstelling ontwikkel in die groot verskeidenheid fisiese prosesse wat tot die vorming en ontwikkeling van die sterrestelsel bydra:
# En, om mee af te sluit: Die bekroonde televisie-vervaardiger Shonda Rhimes, die komediant Amy Schumer, die ster van Law and Order, Mariska Hargitay, en die Brasiliaanse sangeres Anitta is op Variety se Power of Women-geleentheid in New York vereer. Rhimes is erken vir haar werk saam met die Debbie Allen-dansakademie terwyl Schumer erkenning ontvang het vir haar werk in Everytown for Gun Safety. Verlede jaar se wenners sluit in die sanger Billie Eilish en Lily Gladstone.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….