Goeie Nuus 14:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 20 November 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die leier van #NotInMyName, Siyabulela Jentile, het ‘n erkenningstoekenning van die adjunkminister van Maatskaplike Ontwikkeling, Hendrietta Bogopane-Zulu, ontvang, by die derde Nasionale Mansparlement in Limpopo. Hy is vereer saam met nóg mans wat hulle beywer vir verandering in Suid-Afrika. Jentile sê die erkenning is ‘n bewys van die #NotInMyName-beweging se strewe na ‘n regverdige en gelyke samelewing, en sy voortdurende vordering wat positiewe maatskaplike ontwikkeling betref:
# Die Stad Kaapstad het hande gevat met sy vennoot in die tegnologiebedryf, UVU Africa, voorheen bekend as die Kaapse Innovasie- en Tegnologie-inisiatief. Altseaam 24 entrepreneurs is gehelp om die Youth in Business-program te voltooi wat deur die stad befonds is. Die deelnemers moes ʼn oefenkamp van tien dae bywoon om hulle te help om hul sake-idees te deurdink en die nodige stappe te ontwikkel om hulle sakeondernemings te begin. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê elke deelnemer het geleentheid gekry om die vroeë stadium van hulle sake-idees voor te lê aan gaste uit die openbare en privaat sektor:
# Die Stad Kaapstad het onlangs buurtwaglede by die jaarlikse Buurtwag-toekennings vereer. Een van die wenners is George Kruger van Victoriapark, wat as Buurtwag-lid van die Jaar aangewys is. Elsabe Peterson is vereer as Inspirasie van die Jaar omdat sy mediese nooddienste met veilige deurgang gehelp het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê buurtwaglede offer baie op om hulle gemeenskappe ʼn beter plek te maak:
# Na ‘n halwe dekade het die Universiteit van Kaapstad se eerste groep in sy Future Leaders-program die eindstreep bereik. Uit die 12 navorsers wat in 2018 by die program aangesluit het, bly agt steeds betrokke binne die universiteit, terwyl vier nie eintlik meer met die instelling geaffilieer is nie. Die UK sê, die program identifiseer en koester jong, opkomende studenteleiers regdeur die universiteit, met die oog daarop om ‘n volhoubare toekomstige leierskap vir die instelling te verseker. Een van die lede van die groep, doktor Katye Altieri van die Departement van Oseanografie, sê die onbeperkte fondse van die program was waardevol.
# En ten slotte: ʼn Swart hoed wat Napoleon Bonaparte gedra het toe hy die Franse keiserryk in die 19de eeu regeer het, is by ʼn veiling in Parys vir 38,63-miljoen-rand verkoop. Osenat-afslaers sê die hoed is een van 20 wat oor is van die 120 wat die Franse militêre bevelvoerder glo in sy leeftyd besit het. Die koper wil anoniem bly. Dit kom in afwagting van Ridley Scott se Napoleon-fliek met Joaquin Phoenix in die hoofrol wat hierdie maand vrygestel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….