Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 12 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die eerste prinses in die Mej Suid-Afrika-kompetisie, Bryoni Govender, sal die land op 6 Julie in die Mej Supranasionaal-kompetisie verteenwoordig. Sy het die land ook verlede jaar in Mej Heelal verteenwoordig nadat Mej Suid-Afrika, Natasha Joubert, verkies het om nie aan internasionale kompetisies deel te neem nie. Govender sê sy het onvermoeid gewerk om haarself geestelik en fisiek vir die kompetisie voor te berei.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, gaan vandag een van Suid-Afrika se voorste jazz -ikone, Abdullah Ibrahim, in Kaapstad vereer. Die geleentheid is deel van die departement se reeks Van Toeka Af waardeur hy erkenning gee aan lewende legendes in die kreatiewe en kulturele bedrywe. Die departement se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê mense wat vroeër vereer is, sluit in die akteur, regisseur en dramaturg John Kani en die beeldhouer en digter Pitika Ntuli:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Kuns en Kultuur sê hy is ekstaties om weer vir die Naledi-teatertoekennings benoem te wees. Hy het 15 benoemings ontvang. Dit sluit in dié van ‘n dosent aan die Departement van Beeldende Kuns, Nicola Haskins, in die kategorie choreografie in ‘n dans, fisiese teater- en balletproduksie vir die produksie Rapture, terwyl ‘n student, Tswarelo Selolo, as beste manlike hoofspeler benoem is vir Leina. Die toekenningsgeleentheid vind op 20 Mei in die Joburg-teater plaas.
# Netflix werk saam met die hertog en hertogin van Sussex se maatskappy, Archewell, aan twee nuwe nie-fiksie-programme. Dis deel van prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, se ooreenkoms met die stromingsreus. Netflix sê die eerste program met Markle aan die woord sal handel oor die vreugde van kook, tuinmaak, onthaal en vriendskap. Die tweede een sal kykers ongekende toegang gee tot die wêreld van beroeps-polo, en Harry se passie vir die sport vasvang.
# En ten slotte: ‘n Boer van die Nuy-vallei naby Worcester in die Wes-Kaap spog met ʼn nuwe rekord vir die grootste pampoen in die Suidelike Halfrond. Pieter Conradie is as wenner gekroon op die Groot Pampoenfees in Heidelberg, Gauteng. Sy pampoen het 967,5 kilogram geweeg. Hy het eers vier jaar gelede begin pampoene kweek. Die wen-pampoen is ná die kompetisie oopgesny om die pitte vir volgende jaar se geleentheid te bêre en die res is aan weeshuise en ouetehuise geskenk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….