Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 29 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die welsynsorganisasie In My Shoes gaan volgende week 20-duisend skoene van kinders regoor Ierland aan kinders in Kaapstadse skole en townships skenk. Meer as 100 vrywilligers het gehelp om die skoene in 500 spesiaal vervaardigde bokse te verpak om na Kaapstad te stuur. Die medestigter van In My Shoes, Ciaran McHugh, sê skole in Ierland het die poging aangegryp en daarmee ‘n kultuur van vrygewigheid en waardering onder leerders gekweek.
# Die adjunk-minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nocawe Mafu, sal die departement se publikasie-spilpuntboek by die Ditsong-museum van Kulturele Geskiedenis in Pretoria bekendstel. Die projek, wat uitgevoer is in samewerking met die Akademiese en Nie-fiksie-vereniging van Suid-Afrika, kyk 21 letterkundige werke, wat drie in braille en ‘n oudioboek insluit. Die veldtog is daarop gemik om die nasie se kulturele landskap te verryk, taalverskeidenheid te vier en vir lesers unieke perspektiewe te gee.
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap het ‘n loodgieter, Benjamin Ndzipho, gelukgewens met 35 jaar se uitstekende, toegewyde diens. Hy het in verskeie projekte ʼn belangrike rol gespeel, insluitend die opknapping van Montagu-straat in Blanco tussen die Blanco-poskantoor en Fancourt. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê hulle waardeer en erken Ndzipho se voortgesette toewyding aan diens:
# ‘n Opname deur die Flight Centre-reisgroep het bevind 63-persent van Suid-Afrikaners reis oorsee op soek na liefde. Nieu-Seelanders is tweede, op 59-persent. Flight Centre se plaaslike besturende direkteur, Euan McNeil, meen Suid-Afrikaners se avontuurlustige gees en toeganklikheid dra by tot hierdie neiging. Hy sê die wêreld se uiteenlopende kulture en landskappe is die ideale omgewings om betekenisvolle verhoudings te smee.
# En laastens, Suid-Afrika herdenk vandag Seldsame Siektedag as deel van wêreldwye pogings. ‘n Geraamde 100-miljoen mense in Afrika leef met seldsame siektes, en een uit elke 15 mense in Suid-Afrika word geraak. Die bekendstelling van Genomika vir Gesondheid in Afrika poog om hoop te bied terwyl mediese genetiese toetse aan streke met beperkte toegang, verskaf word. Dit het ten doel om die Afrika-genoom te benut, die weg te baan vir presisie-medisyne en ongediagnoseerde mense met seldsame siektes op die vasteland te help.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….