Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 22 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse danser Musa Motha het gehore betower op die verhoog van America’s Got Talent, saam met die Engelse sanger en liedjieskrywer Calum Scott. Hulle het Scott se treffer ‘You Are The Reason’ in die eindronde uitgevoer. Motha is tans in Hollywood vir America’s Got Talent: Fantasy League. Scott het in 2015 roem verwerf op Britain’s Got Talent, waar hy met die beoordelaar Simon Cowell se Goue Knoppie kon spog. Motha beskryf die ervaring as ‘n droom wat waar geword het.
# Twee wit Bengaalse tiere wat voorheen in ‘n woonbuurt in Boksburg aangehou is, het ʼn nuwe tuiste gevind by ʼn DBV-geakkrediteerde natuurlewe-reservaat in die Vrystaat. Die tiere is in 2021 die eerste keer op ʼn eiendom langs ʼn dagsorgsentrum opgemerk. Die Dierebeskermingsvereniging se nasionale raad sê die tiere se vrylating was indrukwekkend, maar ook hartverskeurend. Die diere het opgewonde na vryheid gespring terwyl hulle die eerste keer ooit gras onder hulle pote gevoel het.
# ʼn Wees-olifantkalfie met die naam Phabeni is by die olifantrehabilitasie- en ontwikkelingsreservaat by Hoedspruit in Limpopo deur ʼn olifant-ma en haar dogter aangeneem. Phabeni, wat in November gered is toe sy net vier maande oud was, het troos en versorging in die aanneem-trop gevind. Die olifant-ma, Setombe, het Phabeni in die familie verwelkom en die kleintjie selfs laat soog. So is ʼn onverwagse band met die nuwe gesin gevorm.
# Die Universiteit van Johannesburg het ʼn toekenning van sowat 8,1-miljoen-rand van die Europese Unie ontvang vir ʼn digitale hervormingsveldtog in Suid-Afrikaanse kolleges vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding. Die projek word die Promotion of Technology-Enhanced Learning and Digital Education genoem. ʼn Professor aan die universiteit, Tankiso Moloi, sê die projek erken TVET-kolleges se behoefte om hulle studente toe te rus met digitale vaardighede en vermoëns wat noodsaaklik is vir sukses in die moderne werksplek.
# En laastens: ‘n Nie-winsgewende organisasie, Grace Factory, in KwaZulu-Natal sê hulle gaan binnekort hulle eerste brei-marathon aanbied. Hulle gaan babaklere maak wat in geskenkpakke ingesluit en aan ma’s in staatshospitale gestuur sal word. Mense word versoek om wol te skenk om mussies, truie en komberse te maak. Die organisasie sê dié gebreide items sal kwesbare ma’s en hul babas ondersteun gedurende die belangrike vroeë weke van moederskap en suigelingskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….