Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 19 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het ‘n mylpaal bereik met sy viering van 90-jaar in die lugvaart-bedryf. Die SAL het byna ineengestort weens wanbestuur en finansiële onrus, maar het suksesvolle sakeredding ondergaan en likwidasie ontduik. Die lugredery het daarna oorweeg om ‘n meerderheid aandele te verkoop aan Takatso Aviation, maar die transaksie is steeds hangende. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het tydens die feesvierings verseker geen verdere reddingsboei word benodig nie:
# Die Stad Kaapstad moedig geregistreerde organisasies sonder winsbejag, soos skuilings en diegene wat met haweloses werk, aan om aansoeke in te dien vir die stad se wintergereedheidsprogram. Die program duur vanjaar van 29 April tot 31 Oktober. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die program laat die stad toe om organisasies wat skuiling aan haweloses bied, te ondersteun deur hulle beskikbare hulpbronne aan te vul:
# ‘n Tshwane-raadslid, Cindy Billson, sê ʼn bottelprop-herwinningsprojek in Centurion maak ʼn groot verskil in die lewens van mense wat moeilik oor die weg kom. Lions of Centurion Lifestyle het hande gevat met Clothes to Good, ‘n organisasie wat tekstiel herwin en mense met gestremdheid bemagtig. Die proppies word aan die plaaslike herwinnaar, Blue Swirl, verkoop om fondse in te samel om vir beweging-gestremde mense toerusting te koop en rolstoele aan te pas. Billson sê dit bevoordeel die omgewing en mense in nood.
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, sê die oorhandiging van huise is ‘n belangrike stap in die regering se verbintenis om ordentlike en bekostigbare behuising aan minderbevoorregte burgers te verskaf. Die minister het die naweek 300 huise aan kwalifiserende begunstigdes in die Harry Gwala-distrik in KwaZulu-Natal oorhandig. Die ministerie se woordvoerder, Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, sê dit is deel van die Gudlucingo-landelike behuisingsprojek. Dié projek sal na verwagting eenduisend-500 eenhede oplewer, insluitend 300 eenhede in fase twee wat tans voltooi word:
# En, laastens: Christopher Nolan se epiese biografiese riller, Oppenheimer, het sewe BAFTA-rolprenttoekennings gewen, insluitend die een vir beste film. Nolan, wat voorheen reeds vir agt Baftas benoem is, is as beste regisseur aangewys, met Cillian Murphy as beste akteur. Poor Things het vyf toekennings verower met Emma Stone as beste aktrise. Die Bafta vir beste ondersteunende aktrise het aan Da’Vine Joy Randolph gegaan vir haar rol in The Holdovers. Beste dokumentêr is toegeken aan 20 Days in Mariupol. Die rolprent gee ‘n ontstellende blik op die eerste drie weke van Rusland se inval in Oekraïne deur die oë van Associated Press se plaaslike verslaggewers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….