Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 16 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, doen ‘n beroep op werknemers om vir die afskop-plan van Kry jou by die Werk te registreer. Die provinsiale regering bied gratis vervoer aan werksoekers na onderhoude met Golden Arrow se busdiens. Die gratis reiskoepon word aan kandidate gebied wat vir ‘n onderhoud by geregistreerde werkgewers gaan. Mackenzie sê die koepons kan van agtuur tot vieruur op enige Golden Arrow-bus gebruik word:
# Die Help A Paw-loodsprojek wat hierdie maand ‘n ambulansdiens vir diere bekend gestel het, sê hy het groot sukses behaal om diere te help wat mediese aandag nodig het. In baie gemeenskappe het diere weens ʼn gebrek aan vervoer nie toegang tot mediese sorg nie. Die ambulans wat as ʼn diere-Uber-diens funksioneer, gaan laai diere af vir fisioterapie en om uiterlik versorg te word. Help A Paw verwag hierdie projek sal die vervoergaping oorbrug en die algemene welstand van diere in gemeenskappe bevorder.
# Die Stad Tshwane sê die nuwe Lusaka-kliniek in Mamelodi sal ’n vlagskip-projek vir die metro wees, aangesien dit die eerste groen-kliniek van sy soort sal wees. Die Lusaka-kliniek is ontwerp volgens groen boubeginsels, insluitend sentrale binnehowe om vars lug in te bring, waterberging en eksterne skadu om onder meer hitte-oordrag te verminder. Die burgemeesterskomiteelid vir Gesondheid, Rina Marx, sê tot dusver het die projek 60 tydelike werksgeleenthede geskep:
# Die bekende Hollywood-ster, Christian Bale, het begin om 12 pleegsorghuise in Palmdale, Kalifornië, te bou as deel van sy organisasie sonder winsbejag, Together California. Die projek wat reeds 16 jaar aan die gang is, wil die pleegsorgstelsel verbeter. Hierdie huise sal verseker dat sibbe bymekaar bly. Die dorpshuise met opgeleide pleegouers het elk drie slaapkamers. Die dorpie sluit ook ateljeewoonstelle en ʼn groot gemeenskapsentrum in. Sy dogter se geboorte in 2005 het die projek geïnspireer en Bale hoop dit sal die model word waarvolgens probleme in Kalifornië se pleegsorgstelsel hanteer word.
# En ten slotte: Herwinningsbemanningslede van die stad Greenville in die Verenigde State het merkwaardige toewyding en deernis getoon toe hulle ‘n reuse taak aangepak het om ‘n verlore trouring te vind. Melanie Harper het haar kosbare witgoud- en diamantring tydens herwinning verloor en dit het haar aangespoor om die hulp van die stad se Departement van Openbare Werke te versoek. Die ywerige werkers het onder leiding van Travis Golden noukeurig die vullis gefynkam en onwrikbare toewyding aan hul gemeenskap getoon. Hul pogings was die moeite werd toe Harper haar onvervangbare ring teruggekry het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….