Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 15 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekende Suid-Afrikaanse keramiek-kunstenaar Mandi Friedman is gekies as die land se ambassadeur vir die 7de uitgawe van ‘Art Connects Women’ in Dubai. Friedman, wat bekroon is vir haar treffende en eksentrieke beeldhouwerke, veral haar werk met primate in Rwanda, poog om die nalatenskap van Dian Fossey, die bekende Amerikaanse primatoloog, te vereer. Friedman beskou dié geleentheid as ‘n platform om Suid-Afrikaanse keramiekkunstenaars wêreldwyd ten toon te stel en haar mede-kunstenaars op ‘n internasionale skaal te verteenwoordig.
# ‘n Projek van The Beast-stigting en verskeie organisasies, die Lead like a Girl-program, het ten doel om 15 jong vroue die geleentheid te bied om sterk en invloedryke vroulike leiers te word. Vyftien jong vroue van Gauteng, KwaZulu-Natal, Harare en Bulawayo is gekies op grond van hul sport-, akademiese en kulturele prestasies asook hul finansiële behoeftes. Die stigter van die stigting, die oud-Springbok Tendai Mtawarira, beklemtoon die program sal geleenthede vir vrouebemagtiging ontsluit deur skoolondersteuning, jaarlikse leierskaps-kampe, inter-Afrika-besoeke en deurlopende mentorskap te verskaf.
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, en die provinsie se LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, gaan die loodsprojek Kry JOU aan die Werk bekend stel. Die program bied aan werksoekers gratis vervoer met die Golden Arrow-busdiens na hul onderhoude. Dit word in samewerking met die private sektor aangebied om struikelblokke vir werkloses te verwyder en toegang tot werkgeleenthede te bied. Geregistreerde werkgewers wat deel is van die program sal gratis vervoerbewyse verskaf aan kandidate wat vir onderhoude genooi is.
# Die organisasie sonder winsbejag, Khulisa Social Solutions, is vereer met sy sesde wêreldwye toekenning vir gemeenskapswerk. Die Great British Investment Magazine het Khulisa as die Beste maatskaplike oplossings-nie-winsgewende-organisasie in Suid-Afrika aangewys vir 2024. Khulisa het die lewens van meer as 100-duisend minderbevoorregte Suid-Afrikaners oor 150 gemeenskappe positief beïnvloed. Hierdie jongste erkenning volg op Khulisa se vorige toekennings, insluitend die CEO Today Africa-toekenning en Beste maatskaplike oplossings-nie-winsgewende-organisasie in 2023 vanaf die Global Excellence Awards, sowel as Korporatiewe LiveWire Youth Support NPO van die Jaar in 2023.
# En, om mee af te sluit: Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting nooi ervare rolprentmakers én die met beperkte ondervinding om aansoek te doen vir befondsingsgeleenthede vir die 2024/25-boekjaar. Aansoeke is oop vir ontwikkeling Vlak 1 en 2, produksie, naproduksie en argief. Ontwikkelingsvlak 3-projekte oor fiksie- en niefiksiekategorieë, sowel as die produksie van web-reekse oor alle vlakke heen is van befondsing uitgesluit. Aansoekers word aangemoedig om hul aansoeke voor 23 Februarie in te dien vir voorkeur- voldoeningsbeoordeling. Aansoeke sluit die agtste van volgende maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….