Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 14 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Sokker: Honderde Bafana Bafana-ondersteuners het vanoggend die bronsmedaljewenners op die OR Tambo Internasionale Lughawe terugverwelkom. Suid-Afrika het die Demokratiese Republiek van Kongo getroef om derde te eindig in die Afrikabekertoernooi wat deur die gasheer, Ivoorkus, verower is. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die EFF-leier, Julius Malema, was onder die hooggeplaastes wat die groep op die lughawe verwelkom het. Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hulle is trots op hul prestasie:
# Ter viering van die roemryke loopbaan van die bekende kunstenaar Esther Mahlangu, gaan die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Gallery in Kaapstad ‘n uitstalling aanbied met die titel Then I Knew I Was Good at Painting. Die uitstalling onder die kuratorskap van Nontobeko Ntombela, fokus op die hoogtepunte van Mahlangu se loopbaan van meer as 50-jaar en haar verbysterende opgang as kontemporêre kunstenaar. Die uitstalling vind plaas van Sondag tot 11 Augustus, waarna dit by die Wits-kunsmuseum in Johannesburg uitgestal sal word voordat dit op ‘n wêreldtoer geneem word wat vroeg in 2026 in Amerika eindig.
# Twintig opkomende skeppers van beeldende kuns het onlangs deelgeneem aan ‘n dag lange meestersklas wat deur die Stad Kaapstad se Kuns- en Kultuurtak aangebied is. Die tak se program vir opkomende kunstenaars help diegene in Kaapstad wat min hulpbronne het, onervare en redelik onbekend is. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die opkomende kunstenaars kom uit talle kulture, agtergronde en kuns-benaderings:
# Die Universiteit van Suid-Afrika sê hy het vooraanstaande akademici aangestel in verskeie poste, insluitend bestuursrolle. In ‘n belangrike mylpaal vir vroue in leierskap, het Unisa professor Zethu Nkosi as die Uitvoerende Dekaan van sy Kollege vir Geesteswetenskappe aangestel. Nkosi sê leierskap is ‘n dinamiese krag wat die leiding en inspirasie van ander insluit om hul volle potensiaal te bereik. Sy het bygevoeg dat haar leierskapfilosofie ‘n verbintenis tot etiese en empatiese besluitneming weerspieël.
# En, om mee af te sluit: Die R&B-sanger en liedjieskrywer, Usher, se rustydvertoning Sondag by die Super Bowl-wedstryd op die Allegiant-stadion in Las Vegas, het 129,3-miljoen kykers gelok, wat die meeste ooit is. Hy het ʼn keurspel treffers gesing met liedjies soos Caught Up, Burn en Love In This Club met spesiale verskynings deur Alicia Keys, will.i.am, Lil Jon, Ludacris en H.E.R. Rihanna se Super Bowl-rustydoptrede verlede jaar en Katy Perry se vertoning in 2015 het elkeen 121-miljoen kykers gelok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….