Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 12 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Vyf Suid-Afrikaanse beginners-ondernemings wat gekies is vir die Ierse Tech Challenge South Africa 2023, gaan na Ierland vir ‘n versnellingsprogram. Dogpatch Labs, ‘n vooraanstaande beginners- en innoveringssentrum in Dublin, is die gasheer en die innoveerders sal toegang kry tot die Ierse tegniese ekostelsel en moontlike befondsingsgeleenthede. Die beginner-ondernemings wat gekies is, sluit in Zoie Health, Pelebox, Foonda Africa, AfroBodies en Desert Green. Ierland se ambassadeur in Suid-Afrika, Austin Gormley, sê die inisiatief toon die hegte samewerking tussen Ierland en Suid-Afrika op die gebied van tegnologie en innovering.
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het 100 jeugdiges in die landbouwaardeketting gekies om aan ‘n opleidingsprogram van 12 maande deel te neem. Die munisipaliteit sê die New Venture Creation-leerderskap in sakebestuur sal uitnemendheid in ondernemerskap in die jong deelnemers ontsluit. Dit word in vennootskap met die voedsel en drankvervaardigingbedryfsektor se onderwys- en -opleidingsowerheid aangebied. Die adjunk-hoof van die munisipaliteit se landbou-besigheidsafdeling, Vuyo Jayiya, sê die program is in ooreenstemming met die Geintegreerde Ontwikkelingsplan Twee, se doelwit van ekonomiese groei en werkskepping.
# Die Universiteit Stellenbosch en sy Departement van Moderne Buitelandse Tale gaan van volgende jaar af Spaans by sy leerplan insluit. Die universiteit het in Desember ‘n ooreenkoms met die regering van Spanje onderteken vir die amptelike skepping van ‘n Spaanse leerstoel aan die instelling. ‘n Dosent in die departement, professor Catherine du Toit, sê die insluiting van Spaans as vakkeuse sal nie net op taalvaardigheid fokus nie, maar ook op die kulturele verskeidenheid en eietydse letterkunde:
# Die musiekblyspel Sister Act wat deur die Helderberg-teaterakademie aangebied word, word van die 17de tot die 27ste van die maand by die Playhouse in Somerset Wes, in die Wes-Kaap opgevoer. Die produksie is gegrond op die ikoniese rolprent van die 1990’s met dieselfde naam met die bekroonde Whoopi Goldberg as een van die sterre. Thuli Tshikini vertolk die rol van die disco diva Deloris in die musiekblyspel, Die musiekregisseur, Jon-Paul Ruschenbaum, sê die oorspronklike musiek deur die agtmalige Oscar-wenner Alan Menken en liedjies wat deur Motown, soul en disko geïnspireer is, sal in die produksie gehoor kan word.
# En, om mee af te sluit: Die inhoud van die bekende Britse natuurkenner en vader van die evolusieleer, Charles Darwin, se groot persoonlike biblioteek word vandag vir die eerste keer gepubliseer, wat saamval met wat sy 215de verjaardag sou gewees het. Die katalogus van 300 bladsye wat deur Darwin Online gepubliseer is, bevat sewe-duisend-400 titels oor 13-duisend items, insluitend joernale, pamflette en resensies. Die projek sluit ‘n virtuele rekonstruksie van die biblioteek in. Die akademikus, John van Wyhe, wat die projek gelei het, sê van die boeke dateer uit Darwin se skooldae, byvoorbeeld Oliver Goldsmith se A History of England 1821.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….