Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 9 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap, Mduduzi Vilakazi, het FlySafair se bekendstelling van ‘n regstreekse roete tussen die Kaapstad Internasionale Lughawe en Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe net buite die Krugerwildtuin verwelkom. Die eerste vlug op die roete word vir 2 April beplan en die goedkoopste kaartjies kos een-duisend-851-rand. Vilakazi sê die nuwe roete sal die provinsie se ekonomie ʼn hupstoot gee en reise tussen die twee gewilde toerismebestemmings meer toeganklik maak:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die voortgesette ingryping van die honde-eenhede en dié vir landelike veiligheid van Mosselbaai, Overstrand en Swartland, wys hoe ongemaklik die lewe vir misdadigers gemaak word. Tussen die 22ste van verlede maand en verlede Sondag het dié eenhede en wetstoepassingsagentskappe 36 verdagtes vir verskeie misdade vasgetrek. Allen sê die provinsiale regering werk daaraan gemeenskappe veiliger te maak:
# Mense soos Oprah Winfrey, Victoria Beckham, Cindy Crawford, Naomi Campbell en Serena Williams is onder 40 vroue wat verskyn op die Britse Vogue se jongste voorblad. Die voorblad is ter viering van die tydskrif se uittredende redakteur, Edward Enninful. Hy het geskiedenis gemaak as die eerste man en eerste swart persoon om die eeu-oue glanspublikasie te lei. Enninful sê hy het die 40 vroue gekies omdat hulle invloed verder gestrek het as net mode en kultuur, en hulle die samelewing in die 2020’s help verander het, deur ‘n klein tot groot indruk te maak wat deurgaans positief was.
# Amerikaanse voetbal: Die R&B-sanger Usher sê sy Super Bowl-rustydvertoning Sondag in Las Vegas gaan ʼn hoogtepunt en nuwe begin van sy loopbaan van 30 jaar wees. Hy gaan die eerste onafhanklike kunstenaar ooit op die verhoog wees nadat hy sy vorige platemaatskappy, RCA, verlaat het om self sy album, Coming Home, vry te stel. Usher het aan Apple Music gesê hy gaan baie dinge, soos ʼn skaats-item, by sy vertoning insluit:
# En ten slotte: ‘n Studie dui op die moontlikheid van ‘n verminderde risiko vir Alzheimersiekte by mans wat Viagra gebruik. Wetenskaplikes het navorsing gedoen onder meer as 260-duisend mans en gevind diegene wat die middel vir impotensie gebruik, 18-persent minder geneig was om die toestand te ontwikkel wat demensie veroorsaak. BBC News berig wetenskaplikes is ook op soek na bestaande medisyne wat Alzheimers kan voorkom of vertraag. Viagra is oorspronklik ontwerp om hoë bloeddruk te behandel, en werk deur op te tree deur ‘n ‘n sel-sein-boodskapper wat ook aan geheue gekoppel kan word.