Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 8 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Nuwe kompakte Volkswagen-bakkie is miskien in die vooruitsig vir Suid-Afrika, wat die leemte sal vul wanneer Nissan later vanjaar die vervaardiging van sy gewilde NP200 staak. Volkswagen het vroeër planne aangekondig om nuwe klein sportnutsvoertuie in die land te bou, en het nou onthul dit kan lei tot die vervaardiging van ‘n halfton-bakkie. Die nuwe sportnutsvoertuig, wat by die Kariega-aanleg in die Oos-Kaap vervaardig gaan word, sal gebou word op dieselfde platform as die Polo.
# Meer as vyfduisend nuwe studente aan die Universiteit Stellenbosch sal vandag deelneem aan die instelling se jaarlikse Sosiale Impak-gemeenskapsoggend. Dis deel van die amptelike verwelkomingsprogram vir nuwelinge. ‘n Woordvoerder, Chevaan Peters, sê die studente sal betrokke wees by verskeie aktiwiteite soos die oorhandiging van skryfbehoefte-geskenkpakkies aan leerders, die uitdeel van kospakkies en skoonmaak van ʼn strand:
# Die organisasie sonder winsbejag, Hennops River Revival, sê hy gaan voort met gereelde skoonmaakprosesse met vrywilligers uit die korporatiewe wêreld en gemeenskappe, en met ʼn streng beleid van geen kontak met rivierwater nie. Dit volg nadat skoonmaakoperasies in die Hennopsrivier self gestaak is weens die geweldig hoë konsentrasie riool in die rivier. Die Hennopsrivier is een van Gauteng se mees besoedelde riviere. Die organisasie se stigter, Tarryn Johnston, sê sy is bekommerd oor die verhoogde gevaar van siektes wat deur water oorgedra word, veral in die reënseisoen.
# Disney het aangekondig die opvolg van sy treffer-animasieblyspel, Moana, word op 27 November vrygestel. Die eerste fliek was ʼn reusesukses wat meer as 12,8-miljard-rand by die loket verdien het. Auli’i Cravalho, wat in die 2016-weergawe Moana se stem was, sal waarskynlik weer die rol vervul in die animasie-opvolg. Disney se uitvoerende hoof, Bob Iger, sê Moana 2 sal gehore op ʼn uitgebreide nuwe reis neem saam met Moana, Maui en ʼn splinternuwe bemanning van onwaarskynlike seevaarders.
# En, om mee af te sluit: Die Britse amateur-fotograaf, Nima Sarikhani, is vanjaar aangewys as die People’s Choice-toekennings se Natuurlewe-fotograaf van die Jaar. Sy wenfoto met die titel, Ice Bed, is van ʼn slapende ysbeer wat opgekrul op ʼn ysberg lê. Dit is by Noorweë se Svalbard-eilandgroep geneem. Die foto is uit ʼn kortlys van 25 foto’s gekies wat uit ongeveer 50-duisend inskrywings saamgestel is. Sarikhani sê hy hoop die foto inspireer hoop dat daar nog tyd is om die klimaatsprobleem wat mense veroorsaak het, op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….