Goeie Nuus 14:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Automobiel-Assosiasie verwag volgende maand ʼn betekenisvolle daling in die prys van brandstof, wat verligting aan verbruikers en vakansiereisigers bied. Vooruitskattings dui op ‘n daling van ongeveer een-rand-ses-sent per liter vir 95-oktaan petrol, een-rand-vyf-sent vir 93-oktaan petrol en twee-rand-10-sent vir diesel. Die prys van lampolie sal na verwagting ook met ongeveer een-rand-75 sent daal. Die AA skryf hierdie verlagings toe aan verlaagde internasionale produkpryse en ‘n sterker rand teenoor die Amerikaanse dollar. Motoriste word ook versoek om te verseker dat hul voertuie in ‘n goeie toestand is wanneer hulle op reis gaan.
# Die Suid-Afrikaanse animasie-rolprent “The Smeds and the Smoos” het ‘n benoeming ontvang vir die Internasionale Emmy-toekennings in die kategorie Beste Kinder-animasie. Daniel Snaddon en Samantha Cutler, wat voorheen saamgewerk het aan die British Academy-wenner “The Snail and the Whale”, was die regisseurs van die rolprent, wat deur Magic Light Pictures vervaardig is. Die Internasionale Emmy-toekenningseremonie is geskeduleer om Maandag in New York plaas te vind, waar “The Smeds and the Smoos” sal meeding met ander animasie-rolprente, insluitend “Moominvalley.”
# Die Universiteit van Pretoria se wetenskapsentrum het onlangs met sy nuwe mobiele planetarium begin toer, en dit by 17 skole opgestel. Die skoolbesoeke vorm deel van Sci-Enza se deurlopende gemeenskapsuitreikprojekte. Die universiteit sê drie-duisend-500 Tshwane-leerders het ‘n wêreld van wetenskaplike wonders en ruimteverkenning in hul eie skoolsale ervaar. Sci-Enza se bestuurder, Puleng Tsie, sê, hul interaktiewe aanbiedings help ook onderwysers om die mite uit die weg te ruim dat wetenskap moeilik, abstrak of ontoeganklik is. Die sentrum bied van die vierde Desember af ‘n vakansieprogram aan.
# Die Kalbaskraal-gemeenskap in die Wes-Kaap het sy eerste biblioteek, Saskia’s Place Library, gekry. Dis moontlik gemaak deur geldinsamelingspogings van die nieregeringsorganisasie, No Stone. Die organisasie se direkteur, Tim Barry, sê die biblioteek bied aan die gemeenskap nuwe geleenthede om te leer, te groei en in te skakel. Dit sal boonop by sommige ʼn nuwe liefde vir lees in hierdie veilige hawe ontwikkel. Die biblioteek sal ook dien as ruimte vir opvoedkundige aktiwiteite, veral deur sy geletterdheidsprogramme.
# Die Stad Kaapstad sê inwoners in die Sesde Laan-nedersetting in die Kensington-gebied word aan die kragnetwerk gekoppel. Dis deel van die stad se elektrifiseringsprojek om inwoners se lewensomstandighede en veiligheid te verbeter sodat hulle nie meer van oop vlamme afhanklik hoef te wees nie. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê in areas waar die stad krag voorsien en op grond wat die stad besit, is byna al die ouer plakkerskampe in die metro waar moontlik reeds aan die kragnetwerk verbind:
Speel klankgreep: ENG BeverleyonElectricity
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….