Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die stad se skoon oudit van die Ouditeur-generaal vir 2022/23 verwelkom. Die stad se konsep- jaarverslag en finansiële state is vandag op die stadsraad se agenda. Hill-Lewis sê die basis van dienslewering is om staatsgeld te bestee op dít waarvoor dit bedoel is. Hy sê die grondslag van die stad se pogings is om uiteindelik meer mense uit armoede op te hef en werk te gee:
# CapeNature sê die unieke vul wat in die Sanbona-wildreservaat buite Montagu gebore is, is ‘n baken van hoop vir die bewaring van die Kaapse bergsebra. Dié diere was die afgelope 300 jaar hoogs bedreigd weens jag en die vernieting van hul habitat. CapeNature se bewaringsplanne het egter ‘n beduidende toename in die getal Kaapse bergsebras tot gevolg gehad. Die organisasie sê die unieke vul wat in die park gebore is, dien as ‘n bewys van die veerkragtigheid van die natuur wanneer die mens ‘n handjie bysit.
# Die Universiteit van Pretoria se tussentydse visekanselier, Themba Mosia, sê die jaar tot jaar toename in die aantal topmatrieks wat kies om by die instelling te studeer is wonderlik. Gauteng se topdrie-matrieks van 2023 het almal gekies om daar te studeer. Mosia sê die instelling tel in tien velde onder die boonste een-persent universiteite en hy is geweldig trots op die handelsmerk, reputasie en onderriggehalte. Hy sê die universiteit beskou homself as ‘n toekoms-gerigte instelling in al die programme wat hy aanbied.
# Die Sweet Life Diabetes Community webtuiste maak ‘n aansienlike verskil met sy platform wat ondersteuning bied aan mense wat aan diabetes ly. Die platform dien as ‘n spilpunt waar mense toegang kry tot waardevolle hulp, insluitend gratis raad, resepte, dieetgidse, en potgooie wat ‘n wye reeks diabetes-verwante onderwerpe dek. Die Sweet Life Diabetes Community sê dit is sy visie om die beste diabetes-opvoeding in Suid-Afrika te verskaf, mense met die chroniese siekte te bemagtig en diabetes in die kollig te plaas.
# En ten slotte: Die sangeres en liedjieskrywer, Joni Mitchell, sal op die ouderdom van 80 die heel eerste keer op vanjaar se Grammy-toekennings optree. Sy is veral bekend vir haar treffer, Big Yellow Taxi, en is ‘n benoemde in die kategorie Beste folk-album vir haar 2023 regstreekse album, Joni Mitchell at Newport. Die negemalige Grammy-pryswenner moes weer leer loop, praat en kitaar speel nadat sy in 2015 ‘n byna dodelike brein-aneurisme opgedoen het. Die Grammys vind Sondag in Los Angeles plaas en die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah sal die aanbieder wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….