Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand se teater herdenk vanjaar sy 40ste bestaansjaar en vier dit volgende maand deur die herbekendstelling van sy jaarlikse oriëntasieweek-fees. Die Pitso Ya Kalaneng-fees wat op studente fokus wil samewerking en kreatiewe uitruilingsaksies tussen die Wits-kunsskool en ander instellings vir uitvoerende kuns in Gauteng bevorder. Die universiteit sê die fees sal Wits se Oos-kampus in ‘n kulturele kreatiewe sentrum verander waar studente se talent en die uitvoerende kunste gevier word. Die fees se hoogtepunte sal 12 teaterproduksies insluit waarin studente se talent gesien kan word.
# Die Midvaal-munisipaliteit en die Sedibeng-distrik in samewerking met Cell C en MiDesk Global gaan 100 lessenaars aan die Primêre Skool Ratasetjhaba in Chrissiesfontein, Meyerton, skenk. Die MiDesk is ʼn revolusionêre skoolsak wat in ʼn lessenaar en stoel met ʼn sonkraglig en ʼn USB-laaipoort verander kan word. Die munisipaliteit se woordvoerder, Idah Satikhe, sê hierdie veldtog is in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte wat inklusiewe en billike onderwys en lewenslange leer vir almal wil verseker.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het plaaslike entrepreneurs aangemoedig om aansoek te doen by die regering se versterkingsfonds vir klein, mikro en medium ondernemings. Hy het entrepreneurs van Khayelitsha bedank vir hulle rol om Kaapstad en die provinsie te help om top bestemmings te bly. Winde het tydens ‘n besoek aan ikoniese toeriste-trekpleisters soos Siki’s Coffee en Khaltsha-fietse gesels met entrepreneurs soos Sikelela Dibela, en hulle positiewe uitwerking op die gemeenskap en die ekonomie geloof.
# Die Universiteit van die Vrystaat sê die Philippolis-redenaarskompetisie doen wonders om nie net jong moedertaalsprekers se selfvertroue te bou nie, maar ook ʼn hele gemeenskap se kulturele perspektiewe uit te brei. Leerders van graad ses tot nege word elke jaar uitgenooi om ʼn toespraak oor ʼn spesifieke erfenis-verwante onderwerp te lewer. Deelnemers word aangemoedig om in hulle moedertaal te praat wat in dié streek hoofsaaklik Afrikaans, Sesotho, Setswana en Xhosa is. Die universiteit sê hierdie kompetisie doen wonderlike werk om gevoelens van selfwaarde en selfvertroue te bou.
# En ten slotte: Die wêreld se grootste plesierboot, Icon of the Seas, het met ‘n nooiensvaart vanaf Miami in Florida, begin. Die reuseskip onderneem ‘n sewe dae lange vaart na die Karibiese Eilande . Die Icon of the Seas beskik oor 20 dekke en het ‘n maksimum vermoë van sewe-duisend-600 passasiers en twee-duisend-350 bemanningslede. Die plesierboot spog met ses waterglybane, sewe swembaddens, ‘n ysskaatsbaan, ‘n teater en meer as 40 eetplekke, kroeë en sitkamers. Die Icon of the Seas is vyf keer groter as die Titanic.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….