Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het die SANParke-ereveldwagters geloof vir hulle beduidende bydrae van 80-miljoen-rand tot projekte verlede jaar, wat ‘n aansienlike verskil maak in nasionale parke. Die ere-veldwagters het altesaam 313-duisend uur se diens bygedra tot SANParke, wat gemiddeld 155 uur se diens per lid was. SANParke-ereveldwagters, wat sy 60ste bestaansjaar vier, is ‘n vrywilligersorganisasie wat toeganklik is vir enigiemand met ‘n passie vir die natuur en ‘n behoefte het om dit te ondersteun.
# AfriForum se tak in Centurion se buurtspan en lede van die Kloofsig-gemeenskap het die afgelope naweek meer as ‘n ton vullis in die klein buurt opgeruim. Die Kloofsig-gemeenskap het self besluit om hulle buurt skoon te maak. Dewet Ungerer van AfriForum sê skoonmaakveldtogte soos hierdie hou baie voordele in vir ʼn gemeenskap:
# Die Stad Kaapstad het saam met Gift of the Givers gewerk om noodsaaklike hulp te bied aan leerders en hulle gesinne wat geraak word deur die brand wat verlede maand deur die Hillview-plakkerskamp gewoed het. Die humanitêre nie-regeringsorganisasie verskaf aan die begin van elke skooljaar skoolbenodigdhede soos skryfbehoeftes aan 400 tot 500 kinders. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, sê die stad sal voortgaan om saam met vennote hulp te verleen aan rampslagoffers:
# Vier nuwe groepe keiserpikkewyne is deur middel van satellietbeelde in Antarktika geïdentifiseer. Daar is dus altesaam 66 bekende broeiplekke op die Wit Vasteland. Met die ontdekking glo wetenskaplikes hulle weet nou waar die oorblywende broeipare in die wêreld hulle bevind. Volgens die BBC is dit belangrike inligting vir natuurbewaarders wat die spesie dophou wat weens klimaatverandering onder toenemende druk verkeer.
# En ten slotte: Die mediamaatskappy Time Out het New York as sy beste stad ter wêreld vir vanjaar aangewys. Kaapstad, met sy pragtige kombinasie van see, stad en asemrowende berge, is aangewys as die tweede beste stad. Berlyn, Londen en Madrid rond die top-vyf af. Sowat 20-duisend stadsbewoners van regoor die wêreld, is saam met die maatskappy se wêreldwye skrywers en redakteurskorps gevra vir hulle mening. Faktore soos stede se kulinêre aanbod, argitektuur en kulturele bedrywighede is onder meer in ag geneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….