Goeie Nuus 14:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade, het fase drie van die opknapwerk aan die Healdtown High School naby Fort Beaufort bekend gemaak. Die doel an die projek is om die nalatenskap van die geskiedkundige skool as instelling van kulturele en opvoedkundige uitnemendheid te bewaar en te herstel. Onder die skool se beroemde oudstudente is politici, kerkleiers, akademici, uitgewers en wyle Nelson Mandela. Gade sê fase drie sal ʼn koshuis met 700 beddens insluit:
Speel klankgreep:
# ʼn Sabeltandkatspesie is na die paleobioloog van die Universiteit van Kaapstad, Anusuya Chinsamy-Turan, vernoem. Chinsamy-Turan, van die Departement Biologiese Wetenskappe, is vereer vir haar baanbrekerswerk in die uitleg van die biologie van diere wat vyf- tot sewe-miljoen-jaar gelede aan die Weskus voorgekom het. Die gefossileerde oorblyfsels van die spesie is saam met ‘n ander nuwe spesie in die Weskus-fossielpark naby die Lugmagbasis Langebaanweg opgegrawe. Hierdie genus is ook ontdek in plekke wat van Kenia tot Tsjaad strek.
# Die Stad Kaapstad het die uitstel van die spertyd vir pensioenaris-ondersteuningsaansoeke van môre tot die 30ste van November aangekondig. Die stad se algehele maatskaplike ondersteuningspakket vir die 2023/2024-tydperk het met meer as 500-miljoen-rand toegeneem. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Siseko Mbandezi, sê die uitstel gee pensioenarisse 60 jaar en ouer, of persone wat maatskaplike toelae ontvang, genoeg tyd om vir hulp by die stad aansoek te doen:
Speel klankgreep:
# ‘n Mobiele in vitro-bevrugtingslaboratorium, die eerste in die wêreld, is by die Universiteit van Pretoria onthul om minderbevoorregte gemeenskappe te help om toegang tot onvrugbaarheidsorg te kry. Dit is onthul tydens die Toegang-tot-onvrugbaarheidsorg-simposium. Die projek is in samewerking met die Hasselt Universiteit in België en die nie-winsgewende organisasie, The Walking Egg. Die waarnemende adjunk-direkteur van Mediese Wetenskap by die Steve Biko Akademiese Hospitaal se Reproduktiewe Biologie-laboratorium, Gerhard Boshoff, beklemtoon die doelwit is om gesteunde voortplantingstegnologie-dienste aan ekonomies benadeelde en onvrugbare paartjies in lae- en middelinkomste gemeenskappe te verskaf.
# ‘n Fransman met ‘n gevorderde stadium van Parkinson se siekte sê dit is wonderlik om weer te loop nadat hy ‘n nuwe spinale inplanting ontvang het. Die 63-jarige, net bekend as Marc, is 20 jaar gelede met die toestand gediagnoseer en hy kon later nie meer sonder hulp loop nie. GoodNewsNetwork berig hy was die ontvanger van eksperimentele inplantingstegnologie in Switserland wat ook gebruik is om ‘n mate van beweeglikheid te herstel by ʼn ander man wat verlam gelaat is na ‘n rugmurgbesering. Marc sê hy kan nou kilometers op ‘n slag stap en sy hele lewe het ten goede verander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….