Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Valke vereer vandag sy lede by sy sewende jaarlikse nasionale prestige-toekennings in die Batter Boys Hotel in Montana, Pretoria. Die toekennings vereer operasionele en administratiewe lede wat meer as hulle plig gedoen het om die mense van Suid-Afrika te dien en te beskerm. Die Valke sê die topbestuur erken die uitstaande bydrae en opofferings wat lede maak in hulle poging om ‘n veilige Suid-Afrika te verseker.
# Airlink het aangekondig hy sal sy vlugte van Durban na Bloemfontein op die 26ste van volgende maand hervat, met oggend- en laatmiddagdienste. Die uitvoerende hoof en besturende direkteur, Roger Foster, sê hierdie stap is deurslaggewend in die vestiging van Durban as die lugredery se derde spilpunt-lughawe. Hy sê dit is in reaksie op ‘n groeiende vraag vir maklike verbindings, en sê baie meer reisigers maak van die roete gebruik.
# Die organisasie sonder winsbejag, Kids-Can, maak gereed vir ʼn buitengewone reis wat ʼn lewensveranderende uitwerking gaan hê. Die stigter en kanker-oorwinnaar, Kaashief Lakay, gaan in September ʼn fietsry-tog van Kaapstad tot Botswana aandurf. Hy wil een-miljoen-rand insamel om kinders wat kanker het en uit arm gemeenskappe kom, te ondersteun. Lakay sê die doelwit is nie net om bewustheid oor kinder-kanker te skep nie, maar ook om noodsaaklike hulpbronne soos kos, slaapplek en vervoer aan families in nood beskikbaar te stel.
# Die eerste Mazaalai internasionale sneeu- en ysfees in Mongolië het vir ʼn nuwe Guinness-wêreldrekord gesorg toe die meeste mense ooit gelyktydig teen ʼn ys-glyplank afgegly het. Altesaam 408 deelnemers het gehelp om die rekord te behaal deur ʼn uur lank een na die ander teen die fees se ys-glyplank van 16,4-meter af te gly. Die fees, wat op die 28ste van die maand eindig, se grootste trekpleister is ʼn groot beeldhouwerk van ys wat die land se beskermde Gobi-beer, Mazaalai, en haar welpies uitbeeld. Die doel is om bewustheid oor dié ernstig bedreigde dier te skep.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Poskantoor herdenk die Springbokke as wêreldkampioen van 2023 met ‘n spesiale stel internasionale en standaard-posseëls. Die standaard-seël beeld ‘n rugbyveld uit met ‘n goue rugbybal gestel vir ‘n strafskop. Die internasionale seël wys ‘n goue rugbybal omring met ‘n tipografiese ontwerp met die woorde World Champions 2023 en die datums van die Bokke se vorige drie oorwinnings. Die Poskantoor beklemtoon die waarde van die seëls vir versamelaars én gebruikers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….