Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die DA het matrieks wat die Onafhanklike Eksamenraad se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf het, gelukgewens met hul uitstaande slaagsyfer van 98,46-persent. Die party sê die leerders het hul Graad tien jaar begin te midde van die Covid-19-pandemie, wat ‘n geweldige uitdaging was, en hulle moet ongelooflik trots wees op alles wat hulle bereik het. Die DA-lid, Baxolile Nodada, sê altesaam 15-duisend-180 kandidate het die IEB-eksamen in 2023 geskryf, waarvan 88,59-persent met hoërgraad universiteitstoelating geslaag het:
# President Cyril Ramaphosa wy vandag ‘n behuisingsprojek in in Kimberley in die Noord-Kaap. Die Presidensie sê dit is daarop gemik om vier-duisend-168 eenhede op te rig, met ‘n minimum van twee-duisend-500 eenhede wat na verwagting vanjaar voltooi gaan wees. Die projek is na aanleiding van die vraag na behuisings-geleenthede in die provinsie, waar 80-duisend huishoudings nie voldoende behuising het nie. Die Noord-Kaapse regering het aansoek gedoen om ‘n lening van 600-miljoen-rand van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika om sy basis-toelaagtoewysing te steun.
# Driehonderd skole in Noordwes voorsien nou ontbyt aan leerders. Die kos word deur die Nasionale Skoolvoedingsprogram voorsien om die gevolge van armoede te verlig vir leerders uit gemeenskappe wat swaar kry. Die premier van Noordwes, Bushy Maape, se woordvoerder, Sello Tatai, sê die program is goed ontvang en die regering het tot nou nog geen haakplekke ondervind nie:
# Die Wes-Kaapse Bloeddiens prys 103 hoërskole nadat hulle gedurende 2023 sowat 13-duisend eenhede bloed geskenk het. Bekende skole, insluitende Hoërskool Outeniqua in George en Hoërskool Vishoek in Kaapstad, tel onder die top tien skenkerskole. Met die vraag na bloed wat elke jaar styg, wys die diens op die belangrikheid daarvan om die basis van aktiewe skenkers uit te brei. Die woordvoerder van die diens, Marike Carli, moedig meer hoërskole aan om bloedskenkklinieke te vestig.
# En ten slotte: George in die Wes-Kaap het ‘n bedrywige vakansietyd agter die rug. Die stad was veral van die 22ste van verlede maand tot die derde Januarie besig met verblyfplekke wat tot 80-persent vol was. Mense het oor die algemeen korter gebly, vier tot vyf dae lank, en meer plaaslike besoekers het van groot stede in Gauteng en ander soos Kaapstad en Gqeberha gekom. Die George-munisipaliteit se burgemeester, Leon van Wyk, skryf die sukses toe aan vernuwende benaderings deur deelnemers aan die toerismesektor en die munisipaliteit wat deeglik voorbereid was vir die toerismeseisoen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….