Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# The Daily Show With Trevor Noah het op die 75ste Emmy-toekennings die prys gewen vir Uitstaande Geselsreeks. Dis die eerste toekenning wat die program opraap sedert Jon Stewart se laaste jaar as gasheer. Die Suid-Afrikaanse komediant is die eerste swart persoon wat in hierdie kategorie met ʼn Emmy spog. The Daily Show het The Late Show with Stephen Colbert, Jimmy Kimmel Live!, The Problem with Jon Stewart en Late Night with Seth Meyers, uitgestof om die toekenning te wen. Noah, wat die Comedy Central-program meer as ‘n jaar gelede verlaat het, het die toekenning aanvaar:
# Die projek 67 Komberse vir Nelson Mandela-dag gaan op 27 Januarie sy tiende bestaansjaar vier met feesvieringe by The Farmhouse by Steyn City in Midrand, Gauteng. Carolyn Steyn het die idee begin as ‘n uitdaging ter ere van die ontslape president Nelson Mandela, maar dit het tot ‘n projek ontwikkel waarmee komberse aan honderd-duisende behoeftige mense voorsien word. Steyn sê dit het ontwikkel tot wat sommige mense as ‘n beweging beskryf, wat wêreldwyd aandag trek.
# Die Stad Kaapstad is verheug om aan te kondig sy vullisbewustheidsprogram vir die stad se strande is suksesvol voltooi. Die stad het verlede maand ʼn bewusmaking- en opvoedingsprogram op strande aangebied. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê die program se tema was Die See is ons Tuiste, en was daarop gemik om veral by die jonger geslag ʼn sin van verantwoordelikheid en waardering vir oseane te vestig:
# Sokker: Argentinië en Inter Miami se voorspeler, Lionel Messi, het die toekenning vir beste manspeler van die jaar ontvang op die Fifa-prysuitdeling in Londen. Manchester City se bestuurder, Pep Guardiola, wat die span in die vorige seisoen tot ʼn driekuns gelei het, is aangewys as beste mansafrigter. Ederson van City het die doelwagter-toekenning opgeraap. Engeland se vrouespanbestuurder, Sarina Wiegman, is afrigter van die jaar terwyl Mary Earps van Manchester United vir die tweede agtereenvolgende jaar die beste doelwagter is.
# En ten slotte: Die sebravulletjie van die Klapperkop Natuurreservaat in Pretoria-Oos staan nou bekend as Kamari, na ʼn naamgee-kompetisie aangebied deur die Tshwane Metro. Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê in ʼn verklaring die naam is afkomstig uit Swahili en beteken “maan”. Meer as 300 inskrywings is vir die kompetisie ontvang en die wenner se prys was verblyf vir twee nagte vir vier persone in die Rietvlei Natuurreservaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….