Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die gevierde sjef, Pieter Malan, is gereed om Suid-Afrika te verteenwoordig op die gesogte IKA Kulinêre Olimpiese Spele in Stuttgart, Duitsland. Malan, met sy reputasie dat hy unieke geure en vernuwende kooktegnieke vermeng, het gekwalifiseer as ‘n individuele deelnemer aan die afdeling vir Kulinêre Kuns. Hy is tans die groep uitvoerende sjef vir die Fiesta-hotelgroep in Ghana en sy kulinêre vernuf het verlede jaar die toekenning as Mees Gerespekteerde Uitvoerende Sjef ontvang op die Gasvryheidstoekennings Afrika. Malan is baie opgewonde om deel te wees van die kompetisie:
# Die bekroonde akteur, Tom Cruise, het ʼn nuwe ooreenkoms met Warner Brothers Discovery onderteken om teaterfilms te ontwikkel en vervaardig. Die flieks sal ʼn mengsel wees van oorspronklike produksies en franchise-films met Tom Cruise in die hoofrol. Hy het in die verlede by Warner Brothers gewerk, maar dis reeds ʼn dekade sedert hy in die ateljee se Edge of Tomorrow verskyn het. Die maatskappy sê hy verwelkom Cruise terug en sien daarna uit om in die jare vorentoe nog van sy besondere gawes op die skerm uit te beeld.
# Die Stad Kaapstad moedig inwoners aan om hul stad te verken en die skoonheid binne hul eie gemeenskap te ontdek. Hy sê daar is talle maniere om Kaapstad te geniet sonder om ‘n fortuin uit te gee. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hy plaas die kollig op 50 dinge om te doen vir minder as 50-rand, en nooi die publiek uit om die Moederstad te ervaar terwyl hul die plaaslike ekonomie ondersteun:
# Die Kaapstadse avontuur-swemmer, Kim Prytz, het haar naam in die rekordboeke verewig deur die Robbeneiland-oorgang as borslagswemmer te oorwin. Prytz het die afstand van 19.8-kilometer sonder ʼn duikpak in 14 uur, 13 minute en 3 sekondes afgelê. Dit is genoem die ‘Versoeningswemtog’ en hierdie merkwaardige prestasie het ook ʼn liefdadigheid in gedagte gehad. Die 49-jarige Prytz het haar swemtog toegewy ter ondersteuning van die Goedgedacht Trust. Die trust is aktief gemoeid met die hervorming van benadeelde landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap.
# En ten slotte: ʼn Knaagdier genaamd “Welsh Tidy Mouse” het sedert vroeg in Oktober elke aand by die 75-jarige Rodney Holbrook se skuur in Powys in Wallis ingesluip. Holbrook het agtergekom iemand bêre snags dinge in sy skuur. Hy het opgemerk iets is aan die gang toe die neute wat hy vir voëls in ʼn boksie hou, verdwyn terwyl ander goed daarin gesit word. Holbrook het ʼn kamera opgestel en video’s gekry van die muis wat opruim. “Welsh Tidy Mouse” woon nou wel nie permanent daar nie, maar hy is elke aand terug en word voorlopig met rus gelaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….