Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad se hawebestuurder, Rajesh Dana, sê hulle beplan om hulle regmatige plek in te neem as een van die wêreld se voorste hawens. Hulle lei pogings om met alle rolspelers saam te werk om produktiwiteit te verbeter en agterstande uit te wis. Die hawe is op een van die wêreld se besigste handelsroetes en Dana sê dit sal altyd, net vir daardie rede alleen, strategiese en ekonomiese belangrikheid behou. Hy voeg by die beplande ontwikkeling van die Culemborg-gebied langs die hawe staan op die punt om alles te verander wat die verhoging van vermoë betref.
# ‘n Bejaarde vrou in haar 90’s is meer as vyf dae ná ʼn kragtige aardbewing in Japan uit die puin van ʼn tweeverdiepinggebou gered. Reddingswerkers het die vrou Saterdagaand, 124 uur ná die aardbewing, in Suzu-stad in die Ishikawa-prefektuur gekry en na die naaste hospitaal geneem. ʼn Dokter het aan verslaggewers gesê sy kan gesprekke voer, maar haar bene is beseer. Die aardbewing van 7,5 wat die land op Nuwejaarsdag getref het, het tsunami-waarskuwings so ver as die ooste van Rusland genoodsaak. Minstens 126 mense is in die ramp dood.
Elders het ‘n Amerikaanse onderwyseres, Anne Hanson, ‘n wonderbaarlike hereniging beleef met haar Japanse gasheerfamilie van 22 jaar gelede na die onlangse aardbewing. Sy het haar na die internet gewend en ‘n vorm ingevul op die webblad van die stadsaal van Uozu. Minder as 24-uur later het haar Japanse gasheer van twee dekades gelede, Akihiko Kiyokawa, reageer, moontlik gemaak deur ‘n vriend wat Hanson se boodskap gesien het. Hanson, van Arizona, sê die merkwaardige hereniging is ‘n bewys van hoop, veerkragtigheid en die blywende mag van menslike verbintenisse, selfs in uitdagende tye.
# Botswana se regering het Peggy Serame gelukgewens nadat sy die tydskrif The Banker se toekenning ontvang het as Afrika se minister van Finansies vir 2024. Die tydskrif het die eerste keer in Januarie 1926 verskyn om ekonomiese en finansiële intelligensie aan die finansiële sektor van die wêreld te verskaf, oor ʼn wye spektrum kwessies. Serame is ʼn ekonoom van beroep en Botswana se eerste vroulike minister van Finansies. Sy kry erkenning vir haar intellektuele leierskap en doeltreffende rentmeesterskap van die ekonomie sedert sy haar pos in April 2021 aanvaar het.
# En ten slotte: Oppenheimer het die meeste toekennings by die Golden Globe-toekennings opgeraap toe hy vyf toekennings ingepalm het, insluitend erkenning vir Beste Fliek. Cillian Murphy en Robert Downey Jr is albei vir hul toneelspel bekroon, terwyl Christopher Nolan as beste regisseur aangewys is. Succession het die meeste toekennings in die TV-afdeling ontvang ná sy hoogaangeskrewe vierde en laaste reeks. Sarah Snook, wat die rol van Shiv Roy vertolk, is bekroon as beste aktrise in ‘n hoofrol in ‘n TV-drama, met Kieran Culkin as beste akteur in ‘n hoofrol. Barbie het intussen die eerste loket-toekenning ontvang nadat hy 26-miljard rand wêreldwyd gemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….