Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die lugvaart-datamaatskappy Cirium het die Suid-Afrikaanse lugredery, FlySafair, erken as die beste en stiptelikste lae-kosteredery ter wêreldwyd. Die prestasie-hersiening vir stiptelikheid, wat jaarliks meer as 30-miljoen vlugte wêreldwyd ontleed, het FlySafair geloof vir sy stiptelikheidskoers van 92,36-persent, gegrond op 55-duisend-444 vlugte. Stiptelikheid is noodsaaklik vir ‘n redery se welslae, en raak reisigers se siening. FlySafair sê sy toewyding aan stiptelikheid het bygedra tot sy positiewe posisie in die lugvaartbedryf.
Suid-Afrika word ook deur EnjoyTravel-punt-com sterk aanbeveel as een van die 24 bestemmings vir reisigers wat in 2024 die natuur weer behoorlik wil ervaar. Die land word ook ten spyte van sy drinkgewoontes en wynbedryf aanbeveel as bestemming vir reisigers wat nie drink nie. Die lyste is saamgestel ná ‘n omvattende evaluering van datagedrewe neigings, menings van sy gehoor en insigte van die redaksionele span. Reisigers het Suid-Afrika as ideale bestemming gekies waar hulle kan detoks en avontuur-aktiwiteite soos safari’s en die natuurskoon kan ervaar.
# Die African Transformation Movement wens die Nazareth-baptistekerk alles van die beste toe terwyl hulle begin met hulle 113de pelgrimstog na die Heilige Berg van eKhenana in Durban. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die party erken die belangrikheid van die kerk se geestelike reis. Volgens Ntshona verteenwoordig die Shembe-pelgrimstog ʼn unieke uitdrukking van geloof en hoop aan die begin van die nuwe jaar en hy wens die kerk ʼn reis gevul met seëninge, geestelike lig en geestelike gebondenheid toe.
# Die organisasie, Charity Begins With Me, is besig met ‘n veldtog om voorheen-besitte skryfbehoeftes in te samel vir minderbevoorregte kinders in Johannesburg met skole wat binnekort heropen. Die organisasie sorteer en versprei die ingesamelde skryfbehoeftes aan kinders wat dalk nie die noodsaaklike skoolvoorraad kan bekostig nie. Die inisiatief beklemtoon die skryfbehoeftes hoef nie splinternuut te wees om ‘n aansienlike uitwerking te hê nie. Dit maak ‘n verskil aan kinders se lewens deur vir hulle die items te gee wat vir hulle onderwys nodig is.
# Ten slotte: Die hoof van die Departement van Ortopedie aan die Universiteit van die Vrystaat, professor Steven Matshidza, sê hulle beplan om vanjaar hulle ortopediese uitreikmodel in ander provinsies te skep, selfs in Zimbabwe. Sedert hulle in 2016 met hulle uitreikwerk in Limpopo begin het, het hulle meer as twee-duisend ortopediese operasies in daardie provinsie uitgevoer en meer as 600 in die Vrystaat. Die program dra by om die reuse-agterstande in openbare hospitale aan te spreek. Volgens Matshidza is daar tans ‘n tekort aan ortopediese chirurge in die land, veral in landelike gebiede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….