Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Inwoners en besoekers in Kaapstad het gister in hulle duisende opgeruk om die ikoniese Kaapse Klopse-karnaval te ondersteun. Die geleentheid het in Distrik Ses begin waar duisende gillende en skreeuende mense saam met die Klopse gedans het. Die feestelikheid het in koloniale tye ontstaan toe slawe die dag na Nuwejaarsdag kon ontspan. Dit word nou beskou as ‘n viering van die Kaap se diverse kultuur en is die begin van ʼn kompetisie waar Klopse meeding vir die titel van beste dans- en musiekgroep.
# Die toekoms lyk rooskleuriger vir die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad se radiostasie. RX Radio word deur en vir jong pasiënte aangebied, en was finansieel in die moeilikheid, wat vroeg verlede jaar gelei het tot die verlies van drie personeellede. Nou het die Media Development and Diversity Agency befondsing van 660-duisend-rand vir die hospitaal goedgekeur, terwyl ‘n Amerikaanse skenker ook meer as ‘n half-miljoen-rand geskenk het. Die stasiebestuurder, Noluyolo Ngomani, sê die finansiële hulp gee RX Radio se toekoms waarlik ‘n hupstoot.
# ʼn Professor aan die Universiteit van die Witwatersrand, Leketi Makalela, sê die instelling van die nuwe taalbeleid vir leerplan-hervorming en studentetoegang sal studente baat. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het die strategiese besluit geneem om die gebruik van veeltaligheid in die lesinglokaal te normaliseer, wat vir volgende jaar beplan is. Makalela sê dit is opwindend dat die departement saaikapitaal aangewend het om weg te beweeg van retoriek na die werklike instelling, wat voorheen nie na wense gevorder het nie. Hy raai die land se instellings vir hoër onderwys aan om meer onderwysers in gebaretaal op te lei.
# Veerpyltjies: Die 16-jarige sensasie Luke Littler het nog ʼn verstommende vertoning gelewer om die eindronde van die Wêreldkampioenskap te bereik. Die tiener van Warrington in Engeland het 2018 se wenner, Rob Cross, 6-2 geklop en kort een oorwinning om die jongste wêreldkampioen in die geskiedenis te word. Littler, die jongste speler ooit om die eindronde te haal, kom vanaand in die eindstryd teen sy landgenoot, Luke Humphries, te staan. As hy wen, sal dit een van die grootste sportstories van alle tye wees. Dit kan vergelyk word met Emma Raducanu wat die Amerikaanse Ope-tennistoernooi in 2021 gewen het toe sy 18 was.
# En ten slotte: Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het die ma’s van die een-duisend-703 babas wat op Nuwejaarsdag by openbare gesondheidsgeriewe in die land gebore is, gelukgewens. Phaahla het pa’s en familielede aangemoedig om ma’s by te staan en sê ʼn gemeenskap is nodig om ʼn kind groot te maak. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die eerste babas is presies om middernag by die Philadelphia- en Seshego-hospitaal in Limpopo, die Mowbray-kraamhospitaal in die Wes-Kaap en die Mafikeng Provinsiale Hospitaal in Noordwes gebore:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….