Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 19 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Trots Suid-Afrikaanse dokumentêr, M.A.D Stories, het die prys vir beste dokumentêr gewen op die Cannes Indie-kortprentfees. M.A.D. staan vir Music, Art, and Dreams. Die regisseur is Mark Anthony en dis vervaardig deur Denis Leach met musiek deur Christopher Beukman. Die prent handel oor twee skeppende Kapenaars se toer deur Suid-Afrika se ondergrondse musiektoneel. Die dokumentêr word geloof vir sy rou en eerlike ontginning van vriendskap, identiteit, roem en die prys van ʼn kreatiewe lewe. Dis nou benoem vir die Tokio Indie-kortfees en Venesiese Kortprentfees.
# Afrika se grootste perdewedren en modeskou, die Durban July, gaan vanjaar spog met Suid-Afrika se mees gevierde musiektalent. Die veelbekroonde Afro-pop-duo Mafikizolo, die groep Sunset Sweatshop, die sangeres Lira en DJ Dalootz is sommige van die kunstenaars wat op 5 Julie op die Greyville-renbaan sal wees. Woordvoerder Zandile Dlamini sê vanjaar se July is meer as net ʼn wedren; dis ʼn kulturele ervaring waar die publiek waarlik die ritme van hierdie leefstylgeleentheid kan beleef.
# Tyd raak min vir Suid-Afrikaners wat wil inskryf vir 2025 se Championship Boerewors-kompetisie wat môre sluit. Deelnemers moet bewys hulle is vaardig en het die hele worsmaakproses bemeester. Dit sluit alles in van die perfekte speserymengsel tot die verwerking van die vleis en hoe om die perfek-gestopte wors gaar te maak. Verlede jaar se wenner, Ruard Briel, sê hy gaan vanjaar weer inskryf:
# Die Funda Gemeenskapsopleidingsentrum het sy 13de bestaansjaar gevier met ‘n loopbaanuitstalling in Soweto. Dit was in vennootskap met Black Child Rise, en iLAB Foundation. Die geleentheid was gemik op die bemagtiging van die jeug deur middel van vaardigheidsopleiding en loopbaanvoorligting. Talle studente het reeds beurse, werk en universiteitstoelating verwerf. Die programme wissel van finansiële opleiding tot mode- en digitale vaardighede, met ‘n kookprogram wat binnekort begin.
# En ten slotte: Australië gaan reëls ophef wat alle seksueel-aktiewe gay en biseksuele mans verbied om bloed en plasma te skenk. Die reëls is oorspronklik ingestel om die gevaar van bloedskenkings vanaf groepe met ‘n hoër MIV-blootstellingskans te verminder. Australië sal dan die eerste land wees om alle beperkings weens seksuele bedrywighede op plasmaskenking te verwyder. Mense in ‘n seksuele verhouding van ses maande of langer met een persoon sal mag bloed skenk, ongeag hul geslag of voorkeure. Die nuwe reëls sal potensiële skenkers tot 625-duisend mense uitbrei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….