Goeie Nuus
BULLETIN 30 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Reik na ‘n Droom het die 14-jarige Sacha Willemse van Upington in die Noord-Kaap se droom ʼn werklikheid gemaak. Die talentvolle jong swemmer wat aan ʼn lewensbedreigende siekte lei, het onlangs sy sportheld, die Olimpiese gouemedalje-wenner Chad le Clos, in Kaapstad ontmoet. Dis vandag Pantoffeldag en Reik na ʼn Droom se bemarkingshoof, Ivor Cleary, sê met die publiek se skenkings kan hulle kinders met lewensbedreigende siektes se drome laat waar word:
# Die 13-jarige Faizan Zaki het agt ander ervare spellers uitgestof en die 2025 Scripps Nasionale Spelkompetisie in Washington, Amerika, gewen. Faizan van Allen, Texas, was verlede jaar die naaswenner nadat hy in ʼn blits-uitklopronde verloor het. Sy wen-woord was éclaircissement. Buiten Faizan, wie se ouers uit die suide van Indië geïmmigreer het, is 30 van die afgelope 36 kampioene sedert Nupur Lala se oorwinning in 1999, van Indiese-Amerikaanse afkoms.
# Die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, het een van die Universiteit van Pretoria se jongste gegradueerdes ooit, Mongiwa Hazel Ntuli, gelukgewens. Sy het die graad in Aktuariële Wetenskap op die ouderdom van 17 voltooi. Die departement se woordvoerder, Camagwini Mavovana, sê Ntuli is ‘n sprekende voorbeeld van akademiese uitnemendheid, volharding en die hervormende mag van onderrig:
# Die Standard Bank Joy of Jazz het die kunstenaars van sy driedaagse fees aangekondig. Die sterbelaaide program sluit in die Grammy-wenner Esperanza Spalding, die Suid-Afrikaanse pianis Thandi Ntuli, die Afro-popsensasie Tresor, en die hoog aangeskrewe Ababhemu-kwartet. Meer as 50 kunstenaars sal op vier verhoë deelneem aan die fees in sy 26ste jaar met onverbeterlike vertonings van jazz-uitnemendheid, kultuur-samesmelting en musikale vernuwing. Die jazz-sterre gaan gehore van 26 tot 28 September by die Sandton Internasionale Konvensiesentrum in Johannesburg betower.
# En, Suid-Afrikaanse kuns het nog ‘n rekord laat spat toe Vladimir Tretchikoff se 1955-skildery, Lady from the Orient, op ‘n veiling in Johannesburg verkoop is. Die meesterstuk het bieërs met 89 vinnige aanbiedinge betower en plaaslik geskiedenis gemaak. Internasionaal het Marlene Dumas se 1997-skildery, Miss January, ook ‘n nuwe wêreldrekord vir ‘n lewende vroulike kunstenaar opgestel en vir 251,6-miljoen-rand in New York verkoop. Die prestasies toon Suid-Afrikaanse kuns se toenemende invloed en sukses wêreldwyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………