Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 22 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad aan een van Suid-Afrika se bekendste lewende kunstenaars, Diane Victor, toegeken. Sy het talle toekennings ontvang, en haar werke is in talle belangrike versamelings ingesluit, soos in die Javett-kunssentrum van die UP en die Victoria en Albert-museum in Londen. Een van haar onlangse uitstallings was Dwaasheid, Broosheid en Vrees. Die universiteit sê Victor se kunswerke is ‘n spieël van die werklikheid waarin mense hulle bevind, wat wissel van afgryse en geweld tot skoonheid, broosheid en vryheid.
# Die Kay Mason-stigting het 12,5-miljoen-rand gesamel op ‘n bekendstellingsbal in Londen. Die geld sal aan minderbevoorregte kinders in Suid-Afrika toegang bied tot onderwys, mentorskap en leierskapsontwikkeling. Die uitvoerende hoof, Noëline die Goede, sê hulle wil die kloof tussen gehalte-onderwys en minderbevoorregte gemeenskappe oorbrug deur leerders vir uitsonderlike geleenthede te bemagtig:
# Leerders van die Paarl-skool vir neuraal-gestremdes het gehore betower op die 15de Shakespeare-skolefees in Kaapstad. Die groep het ‘n aangepaste weergawe van A Midsummer Night’s Dream opgevoer in die Distrik Ses-tuiskoms-sentrum. Die groep van 24, van wie die meeste in rolstoele is, het gehore verbyster en hulle is staande toegejuig. Die fees duur tot volgende Saterdag. Die doel is om insluiting, kreatiwiteit en leer deur uitvoerende kuns te bevorder.
# Die Indiese skrywer, prokureur en aktivis, Banu Mushtaq, sê haar Internasionale Booker-prys vir fiksie bevestig dat die wêreldgemeenskap kan gedy wanneer dit verskeidenheid omhels. Sy het die prys gewen vir haar kortverhaal-bloemlesing, Heart Lamp, met 12 kortverhale wat oor ‘n tydperk van meer as 30 jaar geskryf is. Dis die eerste keer dat die prys aan ʼn versameling kortverhale toegeken word. Mushtaq het lesers bedank wat haar woorde in hulle harte toegelaat het:
# En ten slotte: James McCallum van Kaapstad, bekend as die ‘Man in ‘n Pak’, maak gereed om die wêreldrekord vir die vinnigste halfmarathon in ‘n volle pak klere te probeer oortref op die komende Kaapstadse hardloopfees oor 21-kilometer. McCallum se waaghalsige wedloop ondersteun ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat gestremde atlete bemagtig, Jumping Kids. Hy hoop om gewone mense te inspireer, met pak en al, om ‘n verskil te maak terwyl hy die veerkragtigheid van para-atlete beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….