Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 21 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse opvoeder Nadine Smith het die 2025 EDGE in Tech Athena-toekenning vir vroeë loopbaanleierskap gewen. Smith is tydens ‘n spesiale seremonie by die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, vereer vir haar baanbrekerswerk in die omskepping van wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-onderwys om meer inklusief en toeganklik te wees. Smith, ‘n koderings- en robotika-opvoeder by ADvTECH, was een van slegs vier persone wêreldwyd wat die toekenning ontvang het en die enigste onderwyser uit Afrika.
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad in Opvoedkunde toegeken aan Suid-Afrika se mees gevierde en veelbekroonde redaksionele spotprenttekenaar, Jonathan Shapiro, beter bekend as Zapiro. Die universiteit sê sy spotprente hou die afgelope vier dekades ‘n boeiende, insiggewende spieël op van gebeure in Suid-Afrika. Shapiro sê dis vir hom uiters aangenaam om te sien dat sy spotprente in skole en universiteite as onderrighulpmiddels gebruik word:
# Johannesburg het Kaapstad verbygesteek as Suid-Afrika se beste plek om nuwe ondernemings te begin. Volgens StartupBlink se 2025-aanwyser vir nuwe ekostelsels wêreldwyd het Johannesburg 17 plekke geklim tot nommer 122 met ‘n groeikoers van meer as 42-persent, terwyl Kaapstad gedaal het tot die 138ste plek met groei van 13-persent. Suid-Afrika is wêreldwyd 52ste, maar eerste in Afrika. Die land se beginner-ekostelsels het in 2024 sowat 8,2-miljard-rand se fondse ontvang. Suid-Afrika se beste nywerheid is opvoedkundige tegnologie, wat 35ste in die wêreld is.
# Die Wes-Kaapse regering het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdienste met ʼn goue sertifikaat vereer. Dis vir sy prestasie in die tegnologiese bevordering van omgewingsgesondheid, en uitnemende prestasie en onderhouding van munisipale gesondheidsnorme en -standaarde. Burgemeester Andrew Stroebel sê die basiese doelwit van munisipale gesondheidsdienste is om gesondheid te ondersteun en ʼn gesonde omgewing vir die gemeenskap te verseker:
# En ten slotte: Vandag is Internasionale Teedag, wat in 2019 deur die Verenigde Nasies erken is om die kulturele, ekonomiese en sosiale betekenis van tee wêreldwyd te vereer. Tee is een van die wêreld se oudste drankies en word naas water die meeste gedrink. Daar word beraam dat drie-miljard koppies tee wêreldwyd per dag gedrink word. Sri Lanka, lank bekend vir die produksie van van die wêreld se beste tee, drink die meeste, gevolg deur Argentinië en Turkye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….