Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 19 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Marlene Dumas het ‘n nuwe wêreldrekord opgestel vir die duurste werk deur ‘n lewende vroulike kunstenaar. Haar skildery uit 1997, Miss January, is vir sowat 245-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling van Christie’s in New York. Die skildery van 2,8-meter hoog het die vorige rekord van Jenny Saville se kunswerk, Propped, in 2018 oortref. Dumas het haar kunsloopbaan in Kaapstad begin en later na Nederland verhuis waar sy geleidelik ‘n internasionale aanhang opgebou het. Dié rekord beklemtoon die toenemende erkenning van vroue-kunstenaars in die wêreld-kunsmark.
# Die Suid-Afrikaanse Grammy-bekroonde sangeres Tyla word vanjaar die eerste Afrikaan wat die Nickelodeon Kids’ Choice-toekennings aanbied. Die 23-jarige Tyla wie se regte naam Laura Seethal is, is benoem as gunsteling musiekster wêreldwyd en gunsteling-medemusikant vir Show Me Love saam met WizTheMc en Bees and Honey. Ariana Grande, Lady Gaga, Kendrick Lamar en Selena Gomez loop voor met vier benoemings elk. Die toekenningseremonie word op 21 Junie in Santa Monica, Kalifornië, gehou.
# Final Destination Bloodlines, die sesde aflewering van die riller-konsessie, was in sy eerste naweek die beste verkoper by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Kaitlyn Santa Juana speel die rol van ʼn jong vrou wat ontdek haar ouma kan die dood kul en talle lewens red, maar met skrikwekkende gevolge. Disney en Marvel se Thunderbolts is tweede en Ryan Coogler se Sinners, nou in sy vyfde week, is derde. A Minecraft Movie is vierde en The Accountant, met Ben Affleck in die hoofrol, is vyfde.
# Die Universiteit van Limpopo sê hy maak goeie vordering in onderwys deur sy Neem ‘n Skool Aan-program. Die program wil klaskamer-teorie met regte ervarings verbind terwyl leerders geïnspireer word om studierigtings en loopbane in landbouwetenskappe te oorweeg. Die universiteit sê die program strek verder as die tradisionele klaskamer en leerders besoek die kampus ʼn dag lank om ervarings te beleef wat moderne tegnologie en praktiese kennis konbineer.
# En sokker: Suid-Afrika het Marokko in Kaïro, Egipte, 1-0 geklop om die eerste keer die Onder 20-Afrika-bekertoernooi te wen. Gomolemo Kekana se doel in die 70ste minuut het Amajita sy heel eerste titel van die vasteland besorg. Suid-Afrika het die toernooi ook afgesluit met belangrike individuele toekennings. Tylon Smith is aangewys as beste speler en Fletcher Lowe as beste doelwagter nadat hy 24 doele in die toernooi afgeweer het. Nigerië is derde nadat hy die gasheer, Egipte, met vier strafdoele teen een verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….