Goeie nuus 14:00
BULLETIN 15 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika is onder die voorste drie lande waarheen Britse uitgewekenes vanjaar verhuis het. Volgens die hervestigingsfirma U.K.ABROAD in Brittanje is die grootste trekpleisters bekostigbaarheid, die warm klimaat, die Engelssprekende omgewing en lewensgehalte. Australië is boaan die lys, gevolg deur Kanada en Suid-Afrika. Nieu-Seeland en Amerika voltooi die top-vyf. Meer as 5,5-miljoen Britte leef buite die Verenigde Koninkryk.
# Die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine in Kaapstad het die New York Times se lys van die tien beste tuine ter wêreld gehaal. Die tuine teen die oostelike hange van Tafelberg vertoon Suid-Afrika se unieke plantegroei, insluitend die fynbos-bioom en eeuoue broodbome. Die tuin is negende, net ná The High Line in New York, terwyl die Sissinghurst-kasteel in Cranbrook, Engeland, se tuin eerste op die lys is. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Kirstenbosch is ‘n nasionale skat.
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad toegeken aan die bekroonde digter, kortverhaalskrywer en redakteur, Makhosazana Xaba. Dit is uit erkenning vir haar uitstaande bydrae tot letterkunde, feministiese denke en kulturele aktivisme in Suid-Afrika. Haar poësie en kortverhale is in ses tale vertaal en word wyd in bloemlesings gepubliseer en gevier vir die versterking van die stemme en ervarings van vroue in die land. Xaba sê hierdie erkenning bevestig die krag van woorde om ‘n meer inklusiewe en deernisvolle samelewing te skep.
# Standard Bank is ‘n voorloper in bekostigbare behuising, met vroue wat tans 55-persent van sy nuwe verbandkliënte is. Die hoof van Huislenings, Toni Anderson, sê die verskuiwing beklemtoon vroue se toenemende invloed in eiendomsbesit. Lenings aan vroue het in 2024 altesaam 2,67-miljard-rand beloop. Anderson sê die bank bied tot 108-persent finansiering en ondersteuningsdienste, en werk saam met die regering om toegang tot subsidies te verkry wat eerstekeer-kopers bemagtig en ‘n inklusiewe eiendomsmark bevorder.
# En ten slotte: Die Amerikaanse akteur Tom Cruise is vyf minute lank staande toegejuig na die eerste vertoning van Mission: Impossible – The Final Reckoning op die Cannes-rolprentfees in Frankryk. Die regisseur was Christopher McQuarrie, en die rolverdeling sluit bekendes in die reeks flieks in soos Simon Pegg, Ving Rhames en Hayley Atwell, asook Vanessa Kirby en Angela Bassett. Die 62-jarige Cruise, wat sy eie waagtonele in die fliek doen, sê hy is dankbaar dat hy bewonderaars 30-jaar lank met hierdie reeks kon vermaak. Die fliek is van volgende Vrydag af in teaters.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….