Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 14 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twee Suid-Afrikaanse restaurante het die gesogte lys van die Wêreld se 101 Beste Braairestaurante vir 2025 gehaal. VUUR op Stellenbosh – nommer 87 op die lys – is ook as Afrika se Beste Braairestaurant aangewys, terwyl The Blockman van Johannesburg 97ste geplaas is. Die Argentynse restaurant Don Julio Parrilla, in die hartjie van Buenos Aires se lewendige Palermo-distrik, is boaan die lys, gevolg deur Margaret in Sydney, Australië. Laia Erretegia in die skilderagtige dorpie Hondarribia in Spanje is in die derde plek.
# Die ontwykende Boosmansbos-langstertbosspitsmuis is die eerste keer in 46 jaar in die Wes-Kaap opgemerk. Omgewingsbewaarders van CapeNature het die ernstig bedreigde soogdier tydens ‘n ekspedisie ontdek. Die span het valhokke wat per helikopter vervoer word, gebruik om die klein diertjie van 13,7 gram te vang, op te teken en vry te laat. Die spitsmuis is die eerste keer in 1979 opgeteken en word slegs in die Boosmansbos-wildernisgebied aangetref. Verdere navorsing en genetiese ontleding sal gedoen word om sy status en ekologie te verstaan.
# China se konsulaat in Johannesburg het skoolmeubels ter waarde van 250-duisend-rand aan die Progress Comprehensive High School in Pimville, Soweto, geskenk. Konsul-generaal Pan Qingjiang het die meubels oorhandig. Pan en die speaker van die Gautengse wetgewer, Morakane Mosupyoe, sê die gebaar weerspieël die sterk bande tussen China en Suid-Afrika en ‘n verbintenis tot onderwys. Mosupyoe sê die skenking is ‘n kritieke belegging in skole in townships wat uitdagings met infrastruktuur ondervind.
# Apple Music het The Sounds Of Africa bekendgestel, wat die musikale invloed van vyf Afrika-stede beklemtoon, naamlik Johannesburg, Akkra, Dar-es-Salaam, Lagos en Nairobi. Die veldtog bevat saamgestelde lyste met snitte en DJ-samevoegings deur plaaslike kunstenaars. Johannesburg se lys sluit stemme in is soos Kwesta, Nandi Madida en Samthing Soweto, wat die metro se nalatenskap van Kwaito tot Amapiano vier. Apple Music sê Afrika se invloed op die globale musiekbedryf was nog nooit so sterk nie.
# En motorsport: Die beroemde Formule Een-uitsaaier en gewese renjaer, Martin Brundle, het die Orde van die Britse Ryk ontvang. Die 65-jarige Brundle wat vereer is vir sy diens aan motorwedrenne en sportuitsendings, het die toekenning by Windsor-kasteel van prins William ontvang. Die Britse veteraan van 158 Grand Prix-wedrenne was deel van Sky Sports se F1-uitsendings sedert die kanaal in 2012 bekendgestel is. Brundle sê hy is gelukkig en bevoorreg om die eerbewys te ontvang:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….