Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 13 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Oudstudent in joernalistiek aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Ananias Ndlovu, is vereer as een van Suid-Afrika se invloedrykste mans. Die uitgewer van Naledi News en stigter van die Noordwes-mediatoekennings het erkenning ontvang vir sy bydrae tot die ontwikkeling van gemeenskapsmedia. TUT sê Ndlovu se insluiting op die lys beklemtoon gemeenskapsmedia se groeiende erkenning as ʼn krag vir maatskaplike verandering en ontwikkeling in Suid-Afrika.
# Reik na ʼn Droom het meer as 800 verpleegkundiges van hospitale reg oor Suid-Afrika vereer, wat help om die drome van kinders met lewensbedreigende siektes te verwesenlik. Gister was Internasionale Verpleegkundige-sdag. Die organisasie sê die verpleegkundiges het ‘n sertifikaat van waardering, ‘n heerlike oliebol en ‘n sorgpakket ontvang. Reik na ʼn Droom se uitvoerende hoof, Julia Sotirianakos, sê verpleegkundiges is dikwels eerste om ‘n kind in nood te identifiseer, gemoedere te lig en te verseker dat alles gereed is vir ‘n droomervaring.
# Marvel Studios se superheldfliek, Thunderbolts, was die tweede naweek ná sy vrystelling die gewildste by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Regisseur Jake Schreier se rolprent bring ʼn bende wanfunksionele buitestaanders en minder bekende strokieskarakters bymekaar wat hul potensiaal ontdek om helde te wees wanneer hulle saamwerk. Ryan Coogler se riller Sinners was tweede in sy vierde naweek. A Minecraft Movie, wat van ʼn video aangepas is en die tweede meeste geld ooit gemaak het, was derde. Amazon MGM Studios se prent, The Accountant 2, en Clown in a Cornfield voltooi die top-vyf.
# Die Nieu-Seelandse fietsryer Dion Smith is byna van sy fiets afgestamp deur ’n wegholbok tydens die derde skof van vanjaar se Giro d’Italia. Hy het ’n troppie bokke langs die pad gesien en uitgeswaai om ’n botsing te vermy, maar een van die diere het voor hom ingehardloop. Hy is van die pad tot op die gras gestamp, maar kon daarin slaag om op sy fiets te bly en weer op die pad te kom. Die bok was ongedeerd en het doodluiters weggedraf.
# En ten slotte: Vandag is Wêreldskemerkelkiedag, ‘n geesdriftige saluut vir die kuns van mengeldrankies en die wêreldskemerkelkie-kultuur. Die eerste bekende definisie van die woord skemerkelkie het in 1806 in die Amerikaanse koerant, The Balance And Columbian Repository, verskyn. Dit het ‘n skemerkelkie gedefinieer as ‘n stimulerende drankie, saamgestel uit spiritualieë van enige aard, suiker, water en bitterwater. Dit was in wese die bloudruk van wat vandag bekend staan as die outydse skemerkelkie. Van die gewildste skemerkelkies wêreldwyd is die margarita, cosmopolitan, mojito en negroni.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….