Goeie Nuus
BULLETIN 20 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Finland is weer eens die wêreld se gelukkigste land. Dit is volgens die jongste Wêreld-gelukkigheidsverslag. Die verslag is gegrond op globale peilingsdata van mense in meer as 140 lande. Die lande word in rangorde van geluk geplaas volgens hulle gemiddelde lewensevaluerings oor die drie voorafgaande jare – in dié geval 2021 tot verlede jaar. Dit is die sewende agtereenvolgende jaar dat Finland eerste is. Denemarke is tweede, gevolg deur Ysland, Swede en Israel. Suid-Afrika is 83ste op die lys.
# ‘n Mede-professor in Menslike Bewegingswetenskap aan die Universiteit van Fort Hare, Maya van Gent, het onlangs die voorreg gehad om die Internasionale BRICS Raad se konferensie vir Oefening en Sportwetenskap in Indië toe te spreek. Sy het oortuigende navorsing oor nie-oordraagbare siektes by tieners voorgelê. Meer as 500 afgevaardigdes van 35 lande het die konferensie bygewoon. Van Gent sê dit was ongelooflik om die geleentheid te kon hê om haar navorsing op ‘n internasionale verhoog te kon deel. Dit sluit bevindings oor hoë vlakke van vetsug in.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het ‘n vennootskap gesluit met die Riky Rick-stigting vir die Bevordering van Kuns-aktivisme, die Community Arts Network en die Global Commons Alliance om die eerste Globale Aktivisme-konferensie aan te bied. Die tema is “Sentrering van kulturele aktivisme vir ʼn veilige en regverdige wêreld”. Professor Nalini Moodley van TUT sê die doel is om die dinamiese kruispunt tussen kuns en aktivisme te ontgin, en die sentrale rol te beklemtoon wat kreatiewe uitdrukking in omgewings- en samelewingskwessies speel. Die geleentheid word van vyf tot agt September in Pretoria aangebied.
# Die charismatiese span akteurs van die Double Bills-teaterproduksie gaan hulle talent van vandag tot Vrydag in die Joburg-teater tentoon stel. Dit word in samewerking met die Stad Ekurhuleni aangebied. Die metro sê die vennootskap met die teater skep ‘n platform vir opkomende akteurs om hulle talente op die groot verhoog ten toon te stel ná ‘n omvattende opleidingsprogram wat in 2019 begin het. Die toegangsfooi is 80-rand.
# En, laastens: Die Ingcungcu suikerbekkie-herstelprojek help ‘n endemiese voëlspesie in Kaapstad om na ‘n ou vliegroete terug te keer deur fynbostuine in skole op die Kaapse Vlakte te gebruik. Die ontwrigting van voëlmigrasie en die vernietiging van hulle habitat het talle spesies endemies tot die Kaapse Vlakte op die gevaarlys geplaas. Suikerbekkies kan nie verder as een-en-‘n-half-kilometer vlieg nie. Ceinwen Smith van die projek sê die vestiging van tuine by skole dien as sogenaamde vulstasies vir die voëltjies en help hulle om hulle natuurlike migrasie te voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….