Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die jaarlikse Aardklop-kunstefees in Potchefstroom was ‘n groot sukses wat met ʼn groot opkoms gespog het. Die opwindende fees wat in 1998 gestig is, vier die Afrikaanse kultuur deur kuns, musiek, teater, komedie en letterkunde. Aardklop bied nie net geleenthede vir talentvolle kunstenaars nie, maar gee ook aan plaaslike verkopers ʼn platform om hul ware te vertoon. Die feesdirekteur, Alexa Strachan, sê die fees beklemtoon die ryke verskeidenheid in die Afrikaanse gemeenskap:
# Dié week is Nasionale Wetenskapsweek met die tema: Om in ‘n hoëtegnologie-wêreld te leef, en of dit ‘n bekommernis moet wees. Dit het ten doel om kritieke denke aan te wakker oor die vinnige tegnologiese deurbrake en die uitwerking daarvan. Die jaarlikse geleentheid is daarop gemik om die gaping te oorbrug tussen die samelewing en wetenskap. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir die Bevordering van Wetenskap en Tegnologie sê die doel is om ‘n land te bou wat die nodige wetenskaplike kennis het, bewus is van wetenskaplike en tegnologiese ontwikkelings, en sy eie menings kan vorm oor wetenskaplike sake.
# Die Stad Kaapstad sê vanjaar se Chess@Libraries-toernooi was die grootste tot nog toe met 150 spelers wat deelgeneem het aan die afsluitingsgeleentheid in Parow. David Baxter, wat die Durbanville-biblioteek verteenwoordig het, is as kampioen gekroon, met Romeo Raubenheimer van die Adriaanse-biblioteek tweede en Llewellyn Louw van die Parow-biblioteek derde. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê 31 biblioteke het vanjaar ingeskryf:
# Die Llema Le Rona-landbou-ontwikkelingsprojek in Soshanguve in die noorde van die Tshwane-metro sê hy lê die grondslag vir tuinprojekte by skole wat nie net opvoed nie, maar ook praktiese ervaring bied. Die projekbestuurder, Katleho Tsotetsi, sê die idee het ontstaan om gapings in landbou-onderwys en werkloosheid in die Soshanguve-gemeenskap aan te pak. Tsotetsi sê hulle wil ʼn toekoms skep waar kosskaarste, onderwys en gemeenskapsamewerking by die horings gepak word om seker te maak die gemeenskap gedy.
# En ten slotte: Universal en DreamWorks Animation se rolprent, The Wild Robot, met Lupita Nyong’o in die hoofrol, het in sy eerste naweek meer as 598-miljoen-rand by die loket verdien. Dis die derde beste openingsnaweek ooit vir ʼn animasiefliek wat in September vrygestel is. Die fliek is gegrond op Peter Brown se topverkoper oor ʼn robot met die bynaam ROZ, wat ʼn onverwagse band met ʼn wees-ganskuiken en ander diere vorm nadat hulle boot op ʼn verlate eiland strand. Beetlejuice Beetlejuice wat die vierde naweek in teaters wys, is tweede en Transformers One is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….