Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die ANC se eerste adjunksekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, is ingesluit op die African Leadership Magazine se top 100 invloedryke leiers van Afrika-afkoms. Die lys identifiseer presteerders van Afrika-afkoms in die openbare en privaat sektore oral in die wêreld. Die ANC sê Mokonyane se uitsonderlike leierskap en onwrikbare toewyding inspireer Suid-Afrika steeds. Die party voeg by sy is ‘n baken van uitnemendheid in die ANC se geledere.
# Prins William kom in November na Suid-Afrika vir die vierde Earthshot-prysuitdeling in Kaapstad. Hy het hierdie veldtog in 2020 van stapel gestuur, wat daarop gemik is om die mees vernuwende oplossings vir die wêreld se grootste omgewingsuitdagings te vind. Vyftien Earthshot-finaliste is aangekondig. Dit sluit in Advanced Thermovoltaic Systems, Amazon Sacred Headwaters Alliance en die Green Africa Youth Organisation. William sê die finaliste het van die opwindendste en mees vernuwende oplossings wat die grootste uitwerking tot dusver mag hê.
# Die Stad Tshwane sê hy het seder 2000 meer as drie-duisend ambagslui deur sy Ambagsopleidingsprogram opgelei. Die metro het tans tussen 300 en 600 vakleerlinge in die stelsel. Die program bied verskeie ambagte aan, onder meer elektrisiteit, voertuigwerktuigkunde, sweis, passer en draaier, ketelmaker en loodgieterswerk. Die metro sê die program speel ‘n noodsaaklike rol om in die behoefte van Tshwane se infrastruktuur- en diensleweringsbehoeftes te voorsien, terwyl dit ook werksgeleenthede vir jong ambagslui verskaf.
# Die Gemeenskapsontwikkelingsorganisasie vir siggestremdes werk saam met vier skole in Tembisa, Gauteng, om afval te verwyder en in herwinbare materiale te sorteer. Lede van die organisasie besoek skole daagliks en wanneer hulle ‘n redelike hoeveelheid het, neem hulle dit na ‘n plaaslike gerief om verwerk en herwin te word. Die organisasie sonder winsbejag sê hy wil die stemme laat hoor van gestremdes in gesprekke oor klimaatsverandering. Suid-Afrika skep jaarliks ‘n geraamde 122-miljoen-ton afval.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Departement vir Ontspanning en Parke het sy stapprogram vir die jeug hervat as deel van die metro se veldtog om fisiese bedrywighede en ‘n band met die natuur te bevorder. Die afgelope naweek het 58 jongmense op ʼn staptog vertrek wat by Constantia-nek begin en om die Woodhead-reservoir gegaan het. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdiens en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê hierdie veldtog moedig nie net fiksheid aan nie, maar ook kameraadskap en liefde vir die buitelug:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….