Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Zoeloekoning, Misuzulu kaZwelethini, vier vandag sey 50 ste verjaardag. KaZwelethini is vyf dekades gelede in die Hlabisa-hospitaal in noord-KwaZulu-Natal gebore as die eerste seun van koning Goodwill Zwelethini en sy vrou, koninging Mantfombi Dlamini-Zulu, wat albei reeds oorlede is. Die tradisionele eerste minister van die Zoeloe-nasie, Thulasizwe Buthelezi, het die koning seënwense en wysheid toegewens om sy nasie te lei. Die koning sal sy dag in stille nadenke deurbring vóór die amptelike herdenking van Koning Shaka-dag môre in KwaDukuza waar hy die hoofrede sal lewer.
# ‘n Seldsame skiildery deur René Magritte se gewilde L’empire des lumières-reeks sal na verwagting in November meer as een-miljard-rand op ‘n veiling van die afslaer Christie’s in New York haal. Die skildery is een van 27 waarin Magritte met lig geëksperimenteer het deur ‘n sonverligte uitspansel oor ‘n donker straattoneel. Indien die skildery uit die boedel van die ontslape binnehuis-ontwerper Mica Ertegun die geraamde prys haal, sal dit ‘n nuwe rekord vir ‘n Margitte op ‘n veiling wees.
# Vandag is Internasionale Gebaretale-dag, wat ‘n geleentheid is om taalkundige identiteit en kulturele verskeidenheid van alle dowe mense en ander gebruikers van ‘n gebaretaal te ondersteun. Vanjaar se tema is Sign up for Sign Language Rights. Die Wêreldfederasie van Dowes sê daar is meer as 70-miljoen dowe mense wêreldwyd, waarvan meer as 80-persent in ontwikkelende lande is. Saam gebruik hulle meer as 300 verskillende gebaretale. Die publiek word versoek om vandag gebaretaal te begin leer en bewustheid daarvan te verhoog.
# Warner Brothers se fliek Beetlejuice Beetlejuice met onder andere Michael Keaton, Winona Ryder en Danny DeVito , voer steeds die botoon by die loket in Noord-Amerika. Die fliek het wêreldwyd reeds vyf-miljard-rand laat inrol. Transformers One met Chris Hemsworth en Scarlett Johansson is tweede, terwyl Speak No Evil in die derde plek ingeskuif het. Lionsgate se Never Let Go is vierde, terwyl Marvel en Disney se fliek Deadpool and Wolverine vyfde lê.
# En ten slotte: Kaapstad het die nuwe ontwikkeling, Digital Vault, bekendgestel wat mense wêreldwyd toegang gee tot die metro se versameling kunswerke en erfenis-artikels. Dis ‘n aanlyn instrument om kuns- en erfenisvoorwerpe te bestuur. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê Digital Vault se bekendstelling tydens Erfenismaand versterk die metro se verbintenis om die geskiedenis, diverse kulture en erfenis van Kaapstad te bewaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….