Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse rap-kunstenaars, Blxckie en Maglera Doe Boy, is vir BET Hip Hop-toekennings benoem. Hulle is in die Beste Internasionale Vloei-kategorie benoem saam met kunstenaars soos Odumodublvck, Ghetts en Stefflon. Blxckie het vanjaar die eerste keer na Amerika getoer en sy jongste album, See U Soon, is in Julie vrygestel. Die Amerikaanse kletsrymer, Megan Thee Stallion, se 12 benoemings is die meeste vir vanjaar se geleentheid. Die toekenningseremonie vind op agt Oktober in Las Vegas plaas.
# Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het Philippus Saayman geluk gewens wat Suid-Afrika by die toonaangewende WorldSkills Lyon internasionale kompetisie in Lyon, Frankryk verteenwoordig het. Hy het in die kategorie vir verkoeling en lugversorging deelgeneem en goud gewen in die gesogte Best of Nation-kategorie. Saayman het uitgeblink tussen meer as een-duisend-400 talentvolle jong beroepspersone uit 69 lande wat in 62 vaardigheidskategorieë meegeding het. Die departement sê Philippus het buitengewone vaardigheid en toewyding getoon.
# ‘n Meestersgraad-student in Fisiologie en Anatomie aan die Walter Sisulu-universiteit, Siphosethu Mgwili, het die laaste ronde van die FameLab South Africa-kompetisie gehaal. FameLab is ʼn internasionale kompetisie vir wetenskapskommunikasie en openbare gesprekvoering wat wetenskap en tegnologie bevorder deur ʼn platform te skep waar jong wetenskaplikes hulle stem kan laat hoor en openbare gehore bereik. Die universiteit sê Mgwili, wie se baanbreker-navorsing op kunsbeen-ingryping fokus, het sy vermoë om ingewikkelde wetenskaplike konsepte op ʼn toeganklike manier aan die publiek oor te dra, suksesvol bewys.
# Die Galileo-buitelugfliek keer volgende maand terug Kaap toe. Mense kan uitsien na ʼn interessante fliek-ondervinding met iets vir almal se smaak. Dit sluit genres in soos romanse, komedie, drama, animasie, musiekblyspele en rillers waarna mense onder Kaapstad en die Wynland se sterrehemel kan kyk. Galileo Onder die Sterre sal by plekke soos Kirstenbosch, Blaauwklippen, Nooitgedacht, Stellenbosch en Franschhoek te sien wees. Die buitelug-fliekervaring duur van 16 Oktober tot 17 Mei volgende jaar en kaartjies kos 145-rand per persoon.
# Die popster Kylie Minogue gaan volgende jaar haar grootste wêreldtoer in meer as tien jaar onderneem. Die toer begin in Februarie in haar geboorteland, Australië, voor sy na Asië vertrek en in Mei na die Verenigde Koninkryk. Die 56-jarige sal sommige van haar klassieke wêreldtreffers en liedjies van haar nuwe album Tension II sing, wat op die 18de van volgende maand vrygestel gaan word. Daar is nege splinternuwe liedjies op die album asook haar jongste danstreffer, Edge of Saturday Night.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….