Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# BetterBond sê daar is ‘n besliste gees van optimisme in die lug voor aanstaande week se vergadering van die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die nasionale hoof van verkope van BetterBond, Bradd Bendall, sê inflasie is op die laagste vlak in drie jaar en daar is ook aanduidings dat die Amerikaanse Federale Reserwebank sy koerse vandeesmaand sal verlaag, met Suid-Afrika waarskynlik kort op sy hakke:
# Die stigting We’re Against Starvation het ‘n teiken van drie-duisend-600 middagete-kospakkies per maand vir behoeftige kinders gestel. Deur hulle Kids’ Lunchbox-projek wil die stigting noodsaaklike maaltye aan behoeftige gemeenskappe in Krugersdorp verskaf. Die stigter, Esmarelda van Zyl, het die belangrikheid van voeding vir kinders se fisiese en geestelike ontwikkeling benadruk. Die publiek kan ondersteun deur voedselskenkings, kospakkie-voorrade of geldelike bydraes.
# ‘n Leidende jeugontwikkelingsagentskap, Afrika Tikkun, het met Microsoft Suid-Afrika hande gevat om die ICT-Akademie se Going Mobile-projek in Olievenhoutbosch in Pretoria bekend te stel. Dit sal werklose jongmense met waardevolle inligting en kommunikasievaardighede toerus om langtermyn-werkgeleenthede in die tegnologiebedryf te kry. Microsoft sê hulle werk met Afrika Tikkun saam om tasbare voordele vir gemeenskappe te skep en te sorg dat die transformerende mag van tegnologie behoeftige mense bereik.
# Die Universiteit van Pretoria sê hy voer die transformasie van tradisionele onderrig- en leermetodes tot nuwe hoogtes. Dit vind plaas deur ‘n innoverende boek, Fiction and Fable: Tales of Time-Series, bestaande uit fabels gegrond op statistiek deur voorgraadse statistiekstudente en saamgestel deur professor Johan Ferreira. Hy sê wat begin het as ‘n poging om derdejaar-statistiekstudente tydens die Covid 19-pandemie besig te hou, het ‘n bundel kortverhale tot gevolg gehad:
# En, ‘n span van vier bemanningslede op ‘n privaat sending aan boord ‘n SpaceX-kapsule het gister die wêreld se eerste kommersiële ruimte-uitstappie voltooi. Die miljardêr tegniese uitvoerende hoof, Jared Isaacman en ‘n ingenieur van SpaceX, Sarah Gillis, het die eerste privaat-bemanningslui geword om in die ruimte te loop. Die ander spanlede, Scott Poteet en Anna Menon het in die kapsule agtergebly. Die bemanning van Polaris Dawn gaan nog ‘n paar dae in ‘n wentelbaan bly om oorblywende sendingtake uit te voer, insluitend byna 40 eksperimente.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….