Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse sangeres, Tyla, het haar eerste MTV Video Music-toekenning vir Best Afrobeats gewen vir haar trefferliedjie, Water. Sy het geskiedenis gemaak as die eerste vroulike Afrika-kunstenaar wat ‘n MVA wen. Taylor Swift, wat in 12 afdelings benoem is, het sewe toekennings opgeraap. Dit sluit in Kunstenaar van die Jaar en Beste Samewerking vir Fortnight saam met Post Malone. Sy spog nou met die meeste toekennings in MVA-geskiedenis. Tyla sê die uitwerking wat haar liedjies wêreldwyd het, bewys dat Afrika-musiek ook popmusiek kan wees:
# Mej Suid-Afrika, Mia le Roux benadruk die belangrikheid van insluiting en waardering van verskeidenheid in die samelewing. Sy het aan die eerste Gebaretaal- en Musiekbevorderingsminifees by die Transoranje-skool vir Dowes in Pretoria deelgeneem. Die Gautengse Departement van Onderwys, Sport, Kultuur en Ontspanning het die fees aangebied wat leerders se nuwe vaardighede in basiese gebaretaal en musiek tentoongestel het. Le Roux het die leerders aangemoedig om trots te wees op hulle unieke vermoëns:
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad aan professor Jane Knight toegeken. Sy is ‘n vooraanstaande kenner op die gebied van hoër onderwys, internasionalisering, globalisering, openbare beleid en internasionale betrekkinge. Knight, ‘n mede-professor aan die Universiteit van Toronto, is bekend in akademiese kringe vir haar bydraes tot internasionale, inter-kulturele en globale dimensies van internasionale hoër onderwys. Sy sê die erkenning verteenwoordig die waardes van uitmuntendheid, integriteit en maatskaplike geregtigheid wat grondliggend aan haar werk is.
# Die stigting We’re Against Starvation het ‘n teiken van drie-duisend-600 middagete-kospakkies per maand vir behoeftige kinders gestel. Deur hulle Kids’ Lunchbox-projek wil die stigting noodsaaklike maaltye aan behoeftige gemeenskappe in Krugersdorp, Gauteng, verskaf. Die stigter, Esmarelda van Zyl, het die belangrikheid van voeding vir kinders se fisiese en geestelike ontwikkeling benadruk. Die publiek kan ondersteun deur voedselskenkings, kospakkie-voorrade of geldelike bydraes.
# En ten slotte: Kaapstad het met die Norse Atlantic-lugdiens saamgespan in ‘n veldtog om die eerste vlugte tussen Londen en Kaapstad te bevorder wat op 28 Oktober begin. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê Kies Kaapstad-bemarkingsmateriaal gaan as deel van die vennootskap in Londen versprei word, waar dit deur 40 van die Britse hoofstad se beroemde swart huurmotors bevorder sal word. Hy sê bestemmingsbemarking speel ‘n sleutelrol in hul vyfpuntplan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….