Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse pop-ster Tyla is by ‘n geleentheid in New York deur Billboard Magazine met die Global Impact-toekenning vereer. Die 22-jarige sangeres is bekend vir haar treffer, Water, waarvoor sy ʼn Grammy-toekenning gekry het. Sy het in Julie die Billboard-toekenning vir Beste Nuwe Kunstenaar en Beste Internasionale Vertoning ontvang. Tyla sê dis ʼn droom om dit waarvoor sy lief is op die internasionale verhoog te doen:
# Die Suid-Afrikaanse fliek Don’t Let’s Go to the Dogs Tonight, met Embeth Davidz as regisseur en vervaardig deur Rose and Oaks Media, gaan môre op die Toronto Internasionale Rolprentfees vertoon word. Dit is gegrond op Alexandra Fuller se gewilde boek en is ‘n karakterdrama teen die agtergrond van Suider-Afrika se geskiedenis. Die fliek, met Lexi Venter en Zikhona Bali, se eerste vertoning was verlede maand op die gesogte Telluride Internasionale Rolprentfees in Colorado.
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n beduidende mylpaal bereik met ‘n rekordgetal van 400 studente wat hul grade op sy onlangse Lente-gradeplegtighede ontvang het nadat hulle deur die platforms vir volledige aanlyn studie studeer het. Die UP-Aanlyn klas wat afstudeer het sluit in studente in nagraadse diplomas in Openbare Gesondheid en Openbare Bestuur. Professor Linda van Ryneveld van die universiteit sê hulle maak dit vir mense maklik om van enige plek ter wêreld aanlyn te studeer en daar is ‘n duidelike toename in die vraag hierna.
# Die Instituut vir Interne Ouditeure in Suid-Afrika het Tshifiwa Thavhanyendza, voorheen van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, as Jong Interne Ouditeur van die Jaar aangewys. Hy het sy loopbaan in interne ouditkunde by TUT begin waar hy die nasionale diploma, gevorderde diploma en nagraadse diploma in Interne Ouditkunde verwerf het. Hy werk tans as ʼn junior ouditeur by die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap. Thavhanyendza sê hy is besig om namens die Instituut vir Interne Ouditeure ʼn mentorskap-program vir studente te vestig.
# En ten slotte: Die Belgiese eko-ontwerper, Mathilde Wittock, maak meubels uit tennisballe. Die Soundbounce-meubelversameling bestaan tans uit ʼn stoel, skerms, ʼn bank en ʼn reeks muurpanele. Wittock sê die projek wil help met ʼn oplossing vir die 400-miljoen tennisballe wat jaarliks weggegooi word en waarvan net een-persent herwin word. Dit neem haar drie tot vier weke om ʼn stoel te bou wat sy teen sowat 52-duisend-rand verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….