Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria gaan dié week grade toeken aan twee-duisend-162 voor- en nagraadse studente op sy lente-gradeplegtighede. Minstens 26,3-persent van die graduandi het befondsing deur die universiteit se skenkerveldtogte ontvang. Die vise-kanselier, Themba Mosia, sê dit benadruk die noodsaaklike rol van skenkers in die verskaffing van toegang tot hoër onderwys vir talentvolle studente, wat andersins nie in staat sou wees om hul akademiese doelwitte te bereik nie. Eredoktorsgrade sal ook toegeken word aan een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, Antjie Krog, en die bekende hoër onderwys-kenner, professor Jane Knight.
# ‘n Student, Cassandra Jardim, het byna 12-duisend-rand ingesamel om die Our Lady of Fatima-ouetehuis in Benoni, Gauteng, mooi te maak. Die gebrek aan ruimte in die buitelug het haar geïnspireer om ʼn gebied met blomme te vul en ‘n sitplek te voorsien wat inwoners kan geniet. Jardim sê dit het haar geleentheid gegee om terug te gee aan die gemeenskap wat haar liefde vir die Portugese kultuur gekweek het. Dis ook ʼn manier om haar ouma, wat vrywillig by die tehuis werk, se onbaatsugtigheid te vereer.
# Die Stad Kaapstad se Departement van Ontspanning en Parke sê sy fiksheidsprogram verskaf aktiwiteite soos aërobiese oefeninge in groepe, stap- en dansgroepe, en maak voorsiening vir verskillende belangstellings en fiksheidsvlakke. Die afgelope jaar het byna 37-duisend mense aan die fiksheidsprogramme deelgeneem, met trap-oefeninge en hoë-intensiteit-dansies die gewildste bedrywighede. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die programme bevorder nie net fisiese fiksheid nie:
# Die Hollywood-sterre Brad Pitt en George Clooney is vier minute lank staande toegejuig op die Venesiese Rolprentfees waar hulle jongste fliek, Wolfs, vertoon is. In die fliek van skrywer en regisseur, Jon Watts, vertolk Pitt en Clooney die rolle van twee beredderaars wat verkies om alleen te werk, maar moet saamwerk nadat hulle vir dieselfde werk aangestel is. Hulle vertolk die eerste keer saam hoofrolle sedert die Coen-broers (Cohen) se swart komedie, Burn After Reading, van 2008. Pitt se eks, Angelina Jolie, se jongste fliek, Maria, het ook sy debuut op die fees gemaak.
# En ten slotte: Die groep Oasis se terugkeertoer is uitverkoop vir al die konserte wat die groep aangekondig het vir hulle optredes volgende somer in Brittanje en Ierland. Die groep het op X geskryf die kaartjies vir al 17 konserte is opgeraap, maar baie aanhangers kritiseer die verkoopsproses en pryse. Honderde-duisende bewonderaars het in lang rye gewag vir kaartjies vir ‘n eerstehandse belewenis van ‘n toer 15 jaar nadat die groep uiteen is. Die prysmodel op Ticketmaster het egter veroorsaak dat sommige van die oorblywende kaartjies verkoop het vir meer as agt-duisend-rand elk, vergeleke met die aanvanklike prys van drie-duisend-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………