Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse miljardêr en voorsitter van Richemont, Johann Rupert, is nou die rykste man in Afrika en 147ste in die wêreld. Volgens Bloomberg se jongste miljardêr-aanwyser het Rupert se netto waarde tot 270-miljard geklim terwyl die Nigeriese nyweraar, Aliko Dangote, se fortuin tot 253-miljard-rand gekrimp het. Richemont is in Switserland gebaseer en die maatskappy is bekend vir sy gesogte handelsmerke soos Jaeger-LeCoultre en Cartier. Die Suid-Afrikaner Nicky Oppenheimer is die derde rykste persoon op die vasteland.
# Die Stad Kaapstad se Rampbestuursentrum sê hy het die afgelope jaar sterk staatgemaak op vrywilligers se hulp om te reageer op brande en oorstromings. Kaapstad het die afgelope twee jaar onder erge weerstoestande deurgeloop wat rekord-hoë reënval insluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê van April tot Junie het vrywilligers 18-duisend-471 ure se hulp verleen aan rampbestuur-beamptes, wat neerkom op meer as 760 dae se vrywillige diens:
# Die Domino-stigting het rugsakke ontvang wat van 90-duisend panele oorskiet-lap gemaak is. Hierdie kleurvolle, ekovriendelike Afval tot Hoop-sakke is deur Expand a Sign en Uzwelo Bags vervaardig as deel van hulle Mandeladag-projekte. Die skenking gaan aan minderbevoorregte gemeenskappe in KwaZulu-Natal waar 90 rugsakke reeds uitgedeel is. Die stigting is ‘n organisasie sonder winsbejag wat mense en gemeenskappe in Suid-Afrika help om met waardigheid, geregtigheid, hoop en ʼn doel te leef.
# Suid-Afrika skud sy vere reg vir die begin van #Die see begin hier-maand in September met verskeie veldtogte deur Captain Fanplastic. Die maandlange veldtog sluit in eko-kompetisies, byeenkomste met seerower-temas en ‘n fondsinsamelingsveldtog deur die skoonmaak van ‘n rivier. Captain Fanplastic verhoog omgewingsbewustheid onder die jeug wêreldwyd deur ervaringsonderwys. ‘n Groot skoonmaak van die Liesbeekrivier in Kaapstad word op 21 September gehou en die Captain Fanplastic-spanne mik om 200-duisend-rand in te samel om skole te betrek.
# En ten slotte: ‘n Jong leeuwyfie wat gered is uit aanhouding in die oorloggeteisterde Oekraïne het haar eerste tree op gras gegee in Kent en Engeland. Die driejarige Yuna is in ‘n klein hokkie aangehou sedert die oorlog meer as twee jaar gelede uitgebreek het. Sy is getraumatiseer toe puin van ‘n missielaanval 300-meter van haar hok geland het. Yuna het vroeër die maand aangekom by die Big Cat Sanctuary en is ‘n week lank binne gehou voordat sy kon uitgaan. Die skuiling samel tans fondse in om nog vier leeus uit Kiëf na Kent te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….