Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Sesjarige seuntjie wat vyf dae lank vermis was, is diep in ‘n woud in Viëtman opgespoor. Dang Tien Lam, wat in die noordwestelike Yen Bai-provinsie woon, het op 17 Augustus saam met sy nege sibbe in ‘n stroompie gespeel toe hy die heuwels ingedwaal en verdwaal het. Hy is opgespoor sowat ses kilometer van waar hy vermis geraak het. Hy het reddingswerkers gevra om hom op te tel want hy was te moeg om te staan. Die seuntjie het glo oorleef op blare en wildevrugte en het water uit die stroompie gedrink.
# Die eThekwini-munisipaliteit sê die organiseerders van die 31ste Wêreldreistoekennings het vertroue in die sakereis- en toerismebedryf-aanbiedings van die metro en dit dra sy goedkeuring weg. Dit volg na die aankondiging dat agt sakereis- en toerisme-instellings in Durban vir sommige van die gesogste toekenningskategorieë benoem is. Die metro se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê eThekwini het vanjaar vier regstreekse benoemings ontvang:
# Die Ekurhuleni-metro het ‘n belangrike mylpaal bereik in sy verbintenis om in Vroeë Kinderontwikkeling te belê. Hy het sy kinderontwikkeling- en biblioteekbeamptes vir opleiding gestuur wat deur die kinderontwikkelingsorganisasie Care for Education aangebied word. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die LEGO Playbox-opleiding is gemik op taal, fisieke en kognitiewe ontwikkeling deur speletjies. Hy sê opvoeders word opgelei om kennisverwerwing deur middel van spel, kommunikasie, samewerking, kreatiwiteit, kritiese denke en maatskaplik-emosionele vaardighede te integreer:
# Die liefdadigheidsveldtog, One-thousand Kays of Caring, vorder en drawwers het reeds 558 kilometer van hul teikenafstand van ‘n duisend kilometer afgelê. Die draf-veldtog onder leiding van David en Sandra Case, en Emmanuel Makhafola, steun die liefdadigheidsorganisasie Siphila Sonke wat kwesbare volwassenes en kinders in Grabouw in die Wes-Kaap met kospakkies en emosionele ondersteuning bystaan. Die doel is om fondse in te samel en bewustheid te skep oor die organisasie se onderbefondste programme. Hulle hoop ook om langtermyn korporatiewe vennote te kry.
# En ten slotte: Die Sphere in Las Vegas sal van 5 September die tuiste wees van V-U2, ʼn konsertfilm wat kykers ʼn volledige beeld gee van U2 se skitterende visuele vertoning. Die musiekgroep het verlede September met optredes begin en tot Maart 40 keer voor altesaam meer as 700-duisend bewonderaars opgetree. MSG Entertainment sê die konsertfilm is spesifiek vir Sphere gemaak en sal tegnologie gebruik om ʼn ervaring te skep wat slegs in hierdie vermaakmedium van die toekoms beskikbaar is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….