Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap neem die leiding met die bemagtiging van vroue om ‘n groter rol te speel in die stad se bou-omgewing. Die stad se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die tegnologies-gevorderde Hikhensile-kliniek wat in aanbou is, is ‘n voorbeeld van die agentskap se verbintenis om vroue te bemagtig en gesondheidsdienste te verbetering. Modingoane sê ‘n maatskappy in vrouebesit, Big O Developments, is besig om die kliniek te bou, wat ‘n verskeidenheid dienste aan die gemeenskap sal bied, insluitend 16 spreekkamers en ‘n ruim wagvertrek:
# Die Noordwes Universiteit is weer onder die sewe beste universiteite in Suid-Afrika op die 2024-ranglys van die Shanghai-ranglysmaatskappy vir universiteite wêreldwyd. Die instelling sê hy is internasionaal in die kategorie van 601 tot 700, wat ‘n prestasie is omdat slegs die beste duisend universiteite uit meer as tweeduisend -500 jaarliks beoordeel word. Die instellings word aan ses objektiewe aanwysers gemeet, insluitend die aantal alumni wat ‘n Nobelprys of Fields-medalje ontvang het.
# Die Universiteit van Fort Hare se Musiekdepartement het sy eerste hipermoderne musiektegnologie-laboratorium gekry. Dit bevat die jongste musiekproduksie-programmatuur, topgehalte oudio-toerusting en gevorderde digitale koppelvlakke om leer en kreatiwiteit te bevorder. Die universiteit sê die moderne laboratorium sal musiekonderrig en -produksie heeltemal verander. Die musiekdepartement het in 2012 met 13 studente begin en spog tans met 168 studente met hoofvakke in verskeie genres soos Afrika-musiek, Jazz en Westerse Musiek.
# Die Universiteit van Pretoria in samewerking met EyeBrainGym het die nasionale eindronde van die Reading Riot-kompetisie aangebied waar die lees-talent van graad 6-leerders landwyd gevier is. Die veldtog bevorder geletterdheid en begripvaardighede en skep ‘n liefde vir lees onder jong leerders. Die wenner was Stanton Steenkamp van die Noord-Kaap wat nou die nasionale kampioen is. Die universiteit sê hy is vasbeslote om geletterdheid te bevorder en ʼn leeskultuur aan te moedig.
# En ten slotte: Die Amerikaanse popster Taylor Swift het die Britse en Europese skof van haar hoogs suksesvolle Eras-toer op die Wembley-stadion in Londen afgesluit. Sy is die eerste solo-kunstenaar wat agt vertonings in ʼn enkele toer op Wembley aanbied. Dit verbeter die rekord vir ʼn solo-kunstenaar wat Michael Jackson in 1988 met sy Bad-toer opgestel het. Swift het net in die Verenigde Koninkryk voor byna 1,2-miljoen mense opgetree. Sy beplan nog ʼn klomp vertonings in Amerika en Kanada, insluitend in Miami, New Orleans en Indianapolis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….