Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Nasionale Navorsingstigting hou dié week sy 2024-toekennings by Sun City in Noordwes om uitnemendheid in Suid-Afriaanse navorsing te vier. Die stigting se 25 jaar waarin navorsing en vernuwing bevorder is, sal ook op die geleentheid herdenk word. Toekennings sluit in dié vir Lewenslange Bydrae waarin navorsers vereer word wat wetenskap in Suid-Afrika beduidend beïnvloed het. Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sal die hoofrede lewer.
# Aansoeke is oop vir die 2024 Achmat Dangor-letterkundeprys wat gemik is op sommige jong skrywers uit verskillende genres wat hul honneursgraad voltooi het of daarmee besig is. Die prys, ter ere van die Suid-Afrikaanse skrywer en aktivis, is bedoel vir ‘n jong, voorheen benadeelde skrywer wat geld nodig het. Professor Ivan Vladislavić van die Wits-universiteit sê Dangor het ʼn onmeetbare bydrae tot Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer. Aansoeke sluit op 15 September.
# Ignis Fire Testing stel vandag sy uitgebreide laboratorium bekend en word daarmee Afrika se grootste brandtoetsentrum in privaat besit. Die laboratorium in Blackheath, Kaapstad, is ‘n voorbeeld van Suid-Afrikaanse ingenieursuitnemendheid, met alle onderdele wat plaaslik vervaardig word. Dirk Streicher van Ignis Fire Testing sê die sentrum van een-duisend-500 vierkant-meter voldoen aan wêreldwye brandveiligheidstandaarde en bied gevorderde toetsdienste. Hy sê dié belegging gee plaaslike veiligheid ’n hupstoot en vestig Ignis as ’n sleutelspeler in die internasionale sakebedryf.
# ‘n Nege-maande-oue meisie van Elim in Limpopo het ‘n lewensveranderende operasie ondergaan vir ‘n gesplete verhemelte in die Steve Biko Akademiese hospitaal in Pretoria. Ortica Tuwani is met die Goldenhar-sindroom gebore. Dit is ‘n seldsame aangebore toestand wat gekenmerk word deur abnormale ontwikkeling van die gesig en rug. ‘n Woordvoerder van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Motaletale Modiba, sê sy was een van 12 kinders wat geopereer is:
# En ten slotte: Die volgende uitgawe in die Amerikaanse reeks rillerrolprente, Alien: Romulus, met Cailee Spaeny en David Jonsson in die hoofrolle, het in sy openingsnaweek bo-aan die lokettrefferlys beland. Die fliek van 20th Century Studios het wêreldwyd meer as 19-miljard-rand verdien. Marvel se Deadpool & Wolverine wat reeds vier weke lank wys, is tweede en die romantiese drama, It Ends With Us, is derde. ʼn Geraamde 42-persent van die bedryf se somer-inkomste by kaartjiekantore is aan 20th Century Studios te danke. Dit sluit sy treffers, Inside Out 2 en Kingdom of the Planet of the Apes, in.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….