Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die nuutgekroonde Mej SA, Mia le Roux, gebruik haar platform om inklusiwiteit te bevorder en diegene met gestremdhede te inspireer om groot te droom. Die 28-jarige is op eenjarige ouderdom met ernstige gehoorverlies gediagnoseer. Met Loslitdag in September, wat aangebied word deur die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede, het Le Roux ‘n meelewende boodskap op haar sosiale mediaplatform geplaas. Sy het beklemtoon dat almal raakgesien en erken moet word en dat hul drome saak maak. Le Roux het onderneem om die gestremde gemeenskap te motiveer en op te hef.
# Doktor Rakeshnie Ramoutar-Prieschl van die Universiteit van Pretoria sê vroue neem toenemend leierskaprolle in, en blink uit in vernuwing en baanbeker-navorsing. Sy skryf dit toe aan ‘n groot verskuiwing die afgelope jare in houdings en sienings oor geslagsrolle in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Ramoutar-Prieschl sê die uitdaging om vroue in wetenskap-leierskap te bemagtig word verder verskerp deur die digitale kloof en opkoms van kunsmatige intelligensie:
# Die Slow Fashion-fees vind môre by The Watershed in die V&A Waterkant in Kaapstad plaas. Die doelwit is om mode-geesdriftiges wat etiese en vernuwende praktyke voorstaan, te verenig. Die fees bied ʼn dag van kreatiwiteit en volhoubaarheid met bedrywighede soos ruil-en-herstel, handwerk saam met die Kaapstadse Handwerkklub, en slypskole waar T-hemde en denim sonder vermorsing herverwerk word. Die volgende Slow Fashion-fees is die 14de van volgende maand in Johannesburg.
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, en haar visepresidentskandidaat vir die verkiesing in November, Tim Walz, doen alles moontlik om kiesers te lok. Die Designers for Democracy-versameling bestaan uit nuwe, eksklusiewe handelsware ontwerp deur welbekende ontwerpers, insluitend Vera Wang, Tory Burch, Prabal Gurung en Thom Browne. Die klerereeks sluit in T-hemde, truie, serpe en sokkies met slagspreuke soos “Reproductive Rights Now”, “Vote Democracy” en “Harris 2024”. Die veldtog het reeds die steun gekry van Hollywood-sterre, soos George Clooney, Barbra Streisand en Jamie Lee Curtis.
# En ten slotte: Die musieklegende Elton John gaan die hoof-optrede lewer op die City of Hope se Spirit of Life-gala-konsert in Oktober in Los Angeles. City of Hope is een van die grootste kankernavorsing- en behandelingsorganisasies in Amerika. Die uitvoerende hoof van AEG Presents, Jay Marciano, gaan vereer word met die gesogte Spirit of Life-toekenning vir sy jarelange filantropiese en humanitêre werk. Marciano is aan die stuur van die maatskappy wat John se Farewell Yellow Brick Road-toer asook Taylor Swift se Eras-toer georganiseer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….