Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Olimpiese silwermedaljewenner Bayanda Walaza het sy skoolmaats van die Hoërskool Curro Hazeldean in Pretoria bedank vir hulle ondersteuning terwyl hy sy droom in Parys nagejaag het. Die 18-jarige was lid van die vier-maal-100-meter aflosspan. Walaza is die jongste Suid-Afrikaanse atleet om ʼn Olimpiese medalje te wen sedert die land in 1992 weer tot internasionale sport toegelaat is. Hy het tydens ʼn verwelkomingseremonie by die skool gesê die aanmoediging wat hy van onderwysers en leerders gekry het, was wonderlik:
# Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse popsanger, Tyla, se liedjie Jump is ingesluit op die Amerikaanse oudpresident, Barack Obama, se jaarlikse somer-speellys. Die liedjie is al meer as 140-miljoen keer op Spotify gestroom. Tyla het dit ook op die BET-toekennings gesing waar sy twee toekennings ontvang het. Ander inskrywings op Obama se speellys is Texas Hold ‘Em van Beyoncé, Chihiro van Billie Eilish, die Rolling Stones-treffer I Can’t Get No Satisfaction, en Tommy Richman se liedjie, Million Dollar Baby. Obama stel sedert 2015 byna elke jaar sy speellys saam en deel dit met die wêreld.
# Die African Critical Enquiry-program het die 2024 Ivan Karp-doktorale navorsingstoekenning aan twee PhD-studente van die Universiteit van die Witwatersrand toegeken. ‘n Geskiedenis-student, Sasha Rai, se navorsingsonderwerp is What we do in the shadows: A history and culture of kink in South Africa. Phindile Tabata, wat Afrika-letterkunde bestudeer, ondersoek swart vroue se self-gepubliseerde letterkunde en die uitgewerstelsel in Suid-Afrika van 2010 tot 2020. Die beurstoekennings verskil afhangend van die navorsingsplanne, met ‘n maksimumbedrag van 50-duisend-rand.
# Die Bluff-gemeenskap in Durban het kragte saamgesnoer en die Isaiah 54-kindertoevlugsoord ondersteun deur ‘n voedselinsamelingsveldtog. Die toevlugsoord is ‘n organisasie sonder winsbejag wat op skenkings van die gemeenskap staatmaak om na kwesbare kinders in hulle sorg om te sien. Deur die gemeenskapsveldtog is brood, rys, suiker en botter ingesamel. Die versorgingsoord wat in Maart 2005 gestig is, sê die skenkings sal baie help om maaltye vir die kinders te voorsien.
# En ten slotte: Terapiehonde in die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg verander kankerpasiënte se ervaring tydens behandeling met hulle vertroostende teenwoordigheid. Die spesiaal-opgeleide honde besoek die hospitaal maandeliks as deel van die TOP Dogs-program om vreugde te verskaf, spanning te verminder en pasiënte se moraal ʼn hupstoot te gee. Die gehaltebestuurder van Netcare se Kankersorg, Julie Herold, sê die interaksie met honde bring aan pasiënte ʼn gevoel van normaliteit, en baie onvoorwaardelike liefde en toegeneentheid wanneer hulle vir radioterapie-behandeling kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….