Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die beste Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet ooit, Tatjana Smith, is oorweldig deur ‘n ruimhartige ondersteuner toe sy en Span Suid-Afrika uit Parys teruggekeer het. ‘n Vrou het haar ‘n 100-rand-noot gegee om sjokolade te koop, gesê sy is lief vir haar en wens sy kon haar meer geld gee. Die twee vroue het saam vir ‘n foto geposeer en Smith het die geskenk met dank aanvaar. Sy het haar twee medaljes in Parys gevoeg by die twee wat sy in Tokio gewen het.
# Die Suid-Afrikaanse kortfilm, B(l)ind The Sacrifice, is die eerste keer vertoon op die 77ste Locarno-rolprentfees wat in Switserland aangebied is. Die prent wat deur die bekroonde Nakhane geskryf en geregisseer is, ondersoek manlikheid, patriargie en mag teen die agtergrond van ‘n onveranderlike dog hedendaagse wêreld. Dit was een van 20 kortfilms wat uit vier-duisend voorleggings gekies is om in die gesogte Pardi di Domani-afdeling op die fees mee te ding.
# ‘n Kunswerk op die luike van die Londense Dieretuin is bevestig as die jongste en laaste werk in Banksy se verrassende dierekuns-reeks oral in die Britse hoofstad. Dit toon ‘n gorilla wat die luike oplig om ‘n seeleeu en voëls vry te laat terwyl ander diere van binne toekyk. Dit is Banksy se negende kunswerk binne nege dae in Londen en volg op uitbeeldings van ‘n bok, olifante, apies, ‘n wolf, pelikane, ‘n kat, piranhas en ‘n renoster. Banksy het die jongste werk gister op sy Instagram-blad aangekondig.
# Britse banknote met ‘n sigwaarde van byna 80-duisend-pond het meer as 11-keer die bedrag ingesamel vir welsyn op ‘n reeks veilings. Die 5-, 10-, 20- en 50-pondnote met koning Charles se gesig daarop is in Junie uitgegee. Hy het ‘n volledige stel eerste uitgawes ontvang, elk met ‘n reeksnommer wat eindig op 000001, terwyl honderde ander banknote met lae reeksnommers opgeveil is. Die vier veilings van die afslaer Spink in Londen het altesaam net meer as 914-duisend-pond opgelewer. Die opbrengs word onder tien welsynsorganisasies verdeel.
# En ten slotte: Die wêreld se eerste toegewyde honde-museum is amptelik in Kaapstad geopen. Die Museum vir Honde wat deur Karel van der Vyfer gestig is, stel opwindende uitbeeldings van honde en spesiale verhale van hulle eienaars ten toon. Die museum het selfs luisterstasies vir besoekers waar hulle na liedjies kan luister waarin honde ‘n sentrale rol speel. Dit strek van die Beatles tot Pink Floyd. Van der Vyfer sê die doel van die ruimte is om mense ‘n kans te gee om die rol van honde in die samelewing en in hulle lewens te waardeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….