Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Negentienjarige leerder van KwaZulu-Natal het ʼn selfbesturende, sonkrag-aangedrewe motor ontwerp. Hierdie baanbreker-voertuig sluit ʼn draadlose sleepwa met snel-herlaaistasie in, asook nuwighede in hernubare energie en selfaangedrewe tegnologie. Die graad 12-leerder aan die Mandla Mthethwa School of Excellence, Sqiniseko Mpontshane, het sy uitvinding vroeër vanjaar op die internasionale kompetisie vir wetenskap, tegnologie en ingenieurswese vertoon. Sy skool loof sy prestasie en sê dit bewys vervoer se toekoms is groener en slimmer.
# Die bekroonde beeldende kunstenaar en student aan die Walter Sisulu-universiteit, Nomvula Millicent Hoko, gaan ‘n slypskool aanbied om jong- en aspirant kunstenaars te bemagtig. Die aanbieding, “Eggo’s van Bevestiging”, sal die ingewikkelde kuns en tegnieke van die maak van afdrukke ondersoek en deelnemers geleentheid bied vir ‘n unieke leergeleentheid. Hoko is vroeër die jaar op die vyfde jaarlikse provinsiale Kuns, Kultuur en Erfenis-toekennings as die Beste Visuele Kunstenaar vir 2D aangewys. Die slypskool van ‘n week word van 31 Augustus by die Anne Bryant-galery in Oos-Londen aangebied.
# Die aantal beurshouers sal tot 600 vermeerder word in fase twee van die Universiteit van Pretoria se vennootskap met die Mastercard-stigting se beursprogram. Hierdie fase sluit ʼn groter persentasie vroue, vlugtelinge, ontheemde mense en gestremdes van oral uit Afrika in. Grace Ramafi van Mastercard sê die program wil toekomstige leiers ondersteun deur relevante akademiese opleiding, omvattende ondersteuningstelsels, vérrykende gemeenskapsbetrokkenheid en entrepreneurs-vaardighede.
# Die Santa-skoenboks-projek is nou oop vir span-beloftes wat groepe, skole en maatskappye toelaat om tydens die feestyd geskenkbokse aan behoeftige kinders te gee. Die projek het sedert sy stigting in 2006 meer as ʼn miljoen kinders bereik. Spanne kan ʼn minimum van 20 bokse beloof. Elke boks moet tandepasta, ʼn tandeborsel, seep, ʼn waslap, klere, opvoedkundige artikels en lekkergoed insluit. Individuele mense kan van volgende maand af skoenbokse beloof.
# En ten slotte: Die SAG-AFTRA-stigting het amptelik sy deure geopen in sy nuwe hoofkwartier in Los Angeles, die Meryl Streep-sentrum vir Uitvoerende Kuns. Die tegnologies-gevorderde sentrum is opgerig ter ere van die legendariese aktrise, wat die mees filantropiese skenker in die stigting se byna 40-jarige bestaan is. Die stigting sê die sentrum is ontwerp om SAG-AFTRA-studente te help om hul vaardighede te verfyn en hul loopbane te bevorder. Ander ruimtes in die sentrum is na ander akteurs vernoem wat net so betrokke was, insluitend Nicole Kidman, Tom Hanks en Leonardo DiCaprio.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….